Die MPO is opgewonde oor die vooruitsigte van toekomstige samewerking tussen dié organisasie en die Departement van Arbeid rakende ondersteunende maatreëls vir die suiwelbedryf, sê mnr. Etienne Terre'Blanche, besturende direkteur van die MPO, in 'n nuusverklaring. Dit is na afloop van 'n onlangse werkswinkel tussen die MPO en die Departement van Arbeid se besture.
Terre'Blanche het die belangrikheid van 'n volhoubare én groeiende suiwelbedryf in Suid-Afrika deur goeie organisasie beklemtoon. Hy sê daar is geen rede waarom die land nie 'n uitvoerder van suiwelprodukte kan word nie.
Die MPO het by die werkswinkel aan die departement verduidelik hoe sowat 4 000 boere hulle melk hoofsaaklik aan agt verwerkingsmaatskappye verkoop, terwyl dié weer verwerkte produkte aan vier groot kettingwinkelgroepe verkoop. Die resultaat van hierdie ongebalanseerde handelsvloei is dat melkboere baie min beheer oor hul eie produk het en byna geen bedingingsmag het nie.
Klein en middelslag boere word die swaarste getref, omdat hulle nie die voordele van skaalbesparing kan geniet nie. Dié boere is dan ook meer geneig om die bedryf te verlaat weens finansiële druk. Die MPO het die departement ingelig oor die organisasie se stappe om boere te help met groepvorming wat hul bedingingsmag in die bepaling insetkoste en produkprys sal verhoog.
Ook waardetoevoeging tot rou melk deur suiwelverwerkers, word deur die MPO ondersteun, synde dat verwerkers hierdeur meer beheer oor hul produk terugwin van die groot handelaars in die mark.
Die departement het die MPO versoek om fassette van die melkbedryf te identifiseer waar hy die bedryf kan ondersteun. 'n Opvolgbesoek van die MPO met terugvoer oor hul aanbevelings, sal binnekort gereël word.
Die departement sal glo die Omvattende Landbou-ondersteuningsprogram, oftewel die Comprehensive Agricultural Support Programme (Casp), gebruik om die hulpmaatreëls in die landbou te fasiliteer en implementeer.
"Ons sien uit na die geleentheid om ons aanbevelings oor regeringshulp voor te lê en vertrou dat toekomstige ontmoetings die gewenste resultate sal lewer," sê Terre'Blanche.
Die werkswinkelsessie is by Cedara Landboukollege in KwaZulu-Natal gehou. Die dag is afgesluit met 'n besoek aan mnre. Siphiwe Majola, 'n opkomende boer, en 'n produsent-distribueerder, Kevin Lang, van Fairfield Melkery.
17 Augustus 2007