
Nasie in Gesprek besoek Oudtshoorn, die volstruishoofstad van nie net Suid-Afrika nie, maar ook die wêreld, in hierdie episode.
Soos gewoonlik skop die program af met 'n kykie na die prag en toerisme-aantreklikhede van die Klein Karoo en spesifiek Oudtshoorn. Die hoof uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer, mnr. Piet Kleyn, verduidelik presies hoekom hierdie voël, die wêreld se grootste lewende voël, só belangrik vir die ekonomie in die area is. Het jy geweet dat die grootste manlike volstruis tot 2,8 m lank kan wees en oor die 156 kg kan weeg? En dat die produkte vir verbruik en toerisme alles van die voël insluit, naamlik die eiers, vel, vleis en vere.
Passie vir volstruisboerdery
Die eienaar van Klipheuwel Volstruisplaas, mnr. Laubscher Coetzee, deel ook sy passie van volstruisboerdery, sy unieke band met die landgebonde voëls, asook die uitdagings van hierdie bedryf.
Laubscher sê dat een van die groot risiko’s van volstruisboerdery tans voëlgriep is. Laubscher plaas ook groot klem op die verhouding tussen die produsente en hul plaaswerkers as die sleutel tot 'n suksesvolle boerdery.
Medevolstruisboer, mnr. Joey Potgieter van Welbedag-plaas, is 'n vyfde generasie produsent. Hy sluit by die program aan en verduidelik dat “volstruise in ons bloed is.”
Dis rooivleis!
Het jy geweet dat volstruisvleis as rooivleis geklassifiseer word? Dit is baie gewild onder gesondheidsbewustes vanweë die lae cholesterol en vetinhoud.
Aanbieder Rozanne McKenzie gesels dan ook met die redakteur van Landbouweekblad, Chris Burgess, wat weer eens sy magdom kennis van die landbou in die algemeen en in hierdie spesifieke geval, die volstruisbedryf, met ons deel.
Hy praat ook oor die feit dat die gewildheid van volstruisvere jare terug die volstruisbedryf help groei het. “Die industrie was tot op sy knieë gedwing toe Henry Ford voertuie met afslaandakke vervaardig het en vrouens nie meer hulle hoede met volstruisvere kon dra nie,” sê Burgess. Hy vertel ook wat Amerikaanse cowboys en Brasiliaanse samba-dansers met volstruisvere gemeen het.
Regulasie in die bedryf
Mnr. Charl du Plessis, besturende direkteur van Klein Karoo Internasionaal, praat oor die kwessie van regulasie in die bedryf en hoe selfs die kleinste deel van die volstruis gebruik word – selfs die stene in die voël se maag het waarde!
Mede-aanbieder Theo Vorster gesels voorts met Nobri Booyzen, projekbestuurder van Exotic Leather SA, wat verduidelik dat eksotiese leer uit die neweprodukte van die Nylkrokodil en volstruise bestaan. Sy werp ook bietjie lig op die bedryf sowel as die verbinding tussen die volstruisbedryf en top-modehuise, soos Gucci, Prada en Louis Vuitton, om net 'n paar op te noem.
Moet die tnie misloop nie
As jy al ooit gewonder het hoe groot die impak van hierdie groot voël op die ekonomie is, moenie hierdie episode misloop nie.
Nasie in Gesprek word met trots geborg deur Monsanto, Nedbank en Senwes, in samewerking met Hinterland, NWK en AFGRI.
Skakel na die kykNET-pogram deur hier te klik.
Laai die Nasie in Gesprek toep af en besoek die Nasie in Gesprek webtuiste by www.nasieingesprek.co.za vir die volledige uitsaaiskedule.