
Die pas afgelope 35ste Nederburg-veiling het ’n omset van net meer as R4 miljoen rand behaal – ’n afname van sowat 16% in vergelyking met die R4,79 miljoen van verlede jaar.
Die veiling, wat by Nederburg net buite die Paarl aangebied is, lok jaarliks kopers van oor die hele wêreld. Drie supermarkgroepe het vanjaar die veiling oorheers met 38 % van die aankope.
Die Spar-groep het die beursies die wydste oopgemaak met aankope van R573 770, gevolg deur Makro (R544 880) en Checkers (R410 850). Die gemiddelde prys vir ’n witwyn was R842 per kis van nege liter, met Jordan Nine Yards Chardonnay en Vergelegen White 2005 wat teen R250 per bottel verkoop is. Die gemiddelde prys vir rooiwyn was R1 136 per kis van nege liter, met ’n enkele kis van ses 375 ml bottels Chateau Libertas 1959 wat R23 000 behaal het.
Teen R3 833 per halfbottel is dit die hoogste in die geskiedenis van die veiling. Volgens organiseerders is hulle in hul skik met die verkope, gegewe die huidige ekonomiese klimaat en die mededinging in die plaaslike en internasionale wynmark.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 25 September 2009.
21 September 2009