Sowat 40 swart melkboere gaan baat vind by 'n memorandum van verstandhouding wat die maatskappy Nestlé met die Onafhanklike Ontwikkelingstrust (IDT) onderteken het. Die Nestlé-inisiatief vir opkomende boere is daarop gemik om een van die land se grootste gemeenskap swart melkboere te bevoordeel.
Die memorandum het op die Vrystaatse distrik Thabo Mofutsanyane betrekking. Dit behels 'n openbare vennootskap om swart boere se melkproduksie asook die gehalte van melk te verbeter.
Volgens me. Thembi Nwedamutswu, uitvoerende hoof van die IDT, het die nalatenskap van apartheid ernstige uitdagings aan dié boere gestel.
"Ons wil dit hanteer op 'n manier wat volhoubare ontwikkeling verseker en in pas is met die Regering se landbousektorplan," het sy gesê.
Die projek behels ook samewerking ten opsigte van toegang tot infrastruktuur en die ontwikkeling van besigheidsvaardighede.
Nwedamutswu sê hulle is opgewonde oor die potensiaal van dié betekenisvolle projek wat 'n opheffing van die tweede ekonomie kan verseker.
Volgens Nestlé Suid-Afrika het hy reeds geld en menslike hulpbronne tot die inisiatief beskikbaar gestel. Mnr. Yves Manghardt, besturende direkteur, sê sy maatskappy wil die potensiaal van arm gemeenskappe, boere en hul gesinne ontsluit. "Ons sien daarna uit wanneer (swart) boere die dag in staat is om met die meer gevestigde kommersiële melkboere mee te ding," het hy gesê.
- Nestlé is intussen deur die Mededingskommissie genoem as een van agt melkverwerkers in die land wat hom daaraan skuldig gemaak om melkpryse hoog te hou, pryse van onverwerkte en kleinhandelmelk vas te pen die handelstoestande in die mark te manipuleer. Die ander betrokkenes is Parmalat, Ladismith Cheese, Woodlands Diary, Lancewood, Milkwood Dairy, Clover Industries (Clover) en Clover SA (CSA). Die bevindinge van die Mededingingskommissie volg ná 'n omvattende ondersoek van amper twee jaar.
Landbouweekblad, 12 Januarie 2007