BKB het nog 'n uitstaande jaar agter die rug. Sy bedryfswins het met 41 % gestyg tot R29,8 miljoen. Die maatskappy het ook aangekondig dat hy dividend van R1,72 aan aandeelhouers gaan uitkeer wat - 48 % meer is as die R1,16 van verlede jaar.
Die voorsitter van die direksie van BKB, mnr. Chris Louw, het tydens 'n nuuskonferensie in Port Elizabeth, waar die finansiële state bekend gemaak is, gesê die vee- en handelsafdelings het die beste gepresteer.
BKB het verlede jaar die Vrystaatse afslaersonderneming Louwid bekom.
Ofskoon die wins voor belasting net met sowat R580 000 toegeneem het, het die maatskappy verlede jaar 'n buitengewone inkomste van sowat R6 miljoen op die verkoop van geboue getoon. Vanjaar ws daar 'n buitengewone uitgawe van R2,4 miljoen ten opsigte 'n aandeelgebaseerde betaling vir Swart Ekonomiese Bemagtiging.
'n Verdere aanduiding vir die gesonde finansiële posisie waarin die maatskappy verkeer, is die feit dat hy verlede jaar se skuld van R23,3 miljoen afgelos het en vanjaar R2,7 miljoen kontant op hande het.
Ofskoon BKB-aandele tans teen sowat R20 stuk verhandel, beloop sy totale kapitaal en reserwes R242 miljoen, wat beteken dat die batewaarde per aandeel op nagenoeg R81 te staan kom. Louw het gesê hy is optimisties dat BKB in die komende jaar weer goed sal presteer en het verdere oornames nie uitgesluit nie.
1 September 2006