Die Mededingingskommissie gaan volgende week met Woodlands Dairy en Milkwood Dairy in die Mededingingstribunaal swaarde kruis.
Die twee melkverwerkers sê die kommissie het nie die Mededingingswet nagekom tydens sy ondersoek na ongerymdhede in die melkbedryf nie. Hierdie ondersoek het reeds in Februarie 2005 afgeskop.
Die verwerkers voer aan dat die kommissie se ondersoekspan nie die regte prosedure gevolg het nie. Voor die kommissie nog enige amptelike klag teen hierdie melkerye ingedien het, is verskeie personeellede (van beide melkverwerkers) glo gedaag om voor hom te verskyn. Die verwerkers is glo met kriminele vervolging gedreig indien die personeel die bevel sou minag.
Indien die kommissie wel die korrekte prosedure gevolg het, sou hy eers 'n klag teen Woodlands en Milkwood ingedien het, 'n ondersoekbeampte aangestel het en dan die personeel vir 'n verskyning ontbied het. Só glo die verwerkers. Aangesien daar op daardie bepaalde tydstip nog geen klag gelê was nie, is die dagvaardiging wat vir die verskyning uitgereik is ook, volgens die verwerkers, onwettig.
Die kommissie hou egter vol dat sy ondersoekbeamptes wel die nodige magtiging gehad het en dat die ondersoek wettiglik hanteer is. Indien Woodlands en Milkwood se appél teen hierdie regspunte slaag, sal dit beteken dat die kommissie nie die getuienis wat op hierdie manier bekom is tydens die melkverhoor mag gebruik nie.
Die saak word op 19 en 20 Januarie in Pretoria deur die Mededingingstribunaal aangehoor. Daar is nog nie 'n datum vir die aanhoor van die vermeende melkkartelsaak bekend gemaak nie.
15 Januarie 2009