
‘n Nuttige handleiding vir beesboere het pas die lig gesien, waarin veeartse praktiese vrae wat beesboere het, toelig en beantwoord.
Die titel van dié boek is Vra die veearts - Wat beesboere moet weet (1) en die samesteller is die bekende veearts, dr. Faffa Malan. Landbouweekblad is die uitgewer.
Malan is onder meer die aanbieder van die Vra vir Faffa-afdeling op Landouweekblad se webwerf, landbou.com. Hy is in 2008 deur Landbouskrywers SA as Suid-Afrika se Landboukundige van die Jaar aangewys.
Die nege hoofstukke in die A5-boek bestaan uit 91 artikels wat Malan en ‘n aantal mede-veeartse vir landbou.com geskryf het, na aanleiding van vrae wat beesboere aanlyn gevra het. Die hoofstukke is oor bestuur, voeding, groeibevorderaars, suiwel, parasiete, siektes, enstowwe, middels en vergiftigings. Die 159 bladsye en die A5-formaat maak die boek ‘n stewige hulpmiddel vir elke beesboer. Die boek sal gemaklik in ‘n bakkie se paneelkissie nes kan skop.
Die boek fokus op praktiese aspekte van beesboerdery, soos die kastrasie van kalwers, onthoorning, opblaas op lusernweidings en raad oor die gebruik van boererate, soos aalwyn vir bosluise, eie konkoksies en die gebruik van lekke.
Ook wetenskaplike inhoud
Aan die ander kant bied die boek terselfdertyd wetenskaplike inhoud aan met artikels wat onderwerpe bespreek, soos spoorelemente vir herkouers, inplantate, parasiete en parasietbestryding, en beskrywings van die belangrikste siektes wat by beeste voorkom.
Kortom, dié besonderse handboek bevat inligting wat al in grootvee-handboeke gedokumenteer is, maar dit bied ook inligting aan wat dalk nie opgeteken is nie, maar deur ervaring en die gesproke woord tussen veeartse en boere oorgedra word.
Kontak Johan Terblanche by landbou@media24.com vir meer inligting.