
Mnr. Danie Jonker van Lichtenburg, boer en eienaar van die onderneming WellFedkrippe, sê hulle verkoop al sowat 30 jaar produkte uit hul verwerking-en-gietaanleg aan die mynbou. Sy skoonpa, mnr. Willem Lewis van Klerksdorp, het die masjiene gebou waarmee die afvalplastiek teen hoë druk en hitte verwerk en in bruikbare stukke toerusting omgesit word.
Sewe jaar gelede het hulle die landboumark betree toe dit vir Danie tyd geraak het om sy krippe op die plaas te vervang. Hy versamel afvalplastiek net waar hy dit in die hande kan kry, soms self op ashope. Ander kere koop hy van ondernemers wat dit reeds in groter maat bymekaargemaak het. Hulle verwerk gemiddeld sowat 20 ton per maand, maar party maande tot omtrent dubbel soveel. Die produkte word met hoë drukkrag in pasgemaakte gietvorms gevorm. Dit is volgens Jonker lewenslank gewaarborg, selfs in die son.
Hul reeks produkte vir die landbou sluit verskeie groottes krippe in, asook voerbakke, voerringe en lam- en kalwerhokkies vir skape en beeste, pallisade-heinings en dreineringpype. Dit is lig om te vervoer, betreklik goedkoop en maklik om in verskillende groottes aanmekaar te sit omdat die verskillende komponente in mekaar pas.
Dit kan gesny of geboor word met enigiets waarmee staal gesny kan word, soos ’n ystersaag of ’n staalboor.
Klik net op die foto.
Byskrif: Duursame plastiekkrippe wat uit afvalplastiek in mnre. Danie Jonker en Willem Lewis se verwerking-en-gietaanleg gevorm is. Foto: Marleen Smith