
Veeartse sal voortaan nie meer hoenders, varke, honde, perde én beeste kan behandel nie. Hulle gaan opgelei word in ’n spesifieke bedryfsrigting en sal moontlik wêreldwye akkreditasie hê.
Veeartsenykundestudente wat op 27 November ná sewe jaar van studie hul grade ontvang het, is die laaste groep wat uitgebreide algemene opleiding in dié professie ontvang het. Die leerplan vir veeartse word van volgende jaar af verander om aan te pas by veranderde internasionale uitdagings, het prof. Gerry Swan, dekaan van die Fakulteit Veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria (UP), by die gradeplegtigheid op die universiteit se Groenkloof-kampus gesê.
Swan het gesê wêreldwyd is daar groot verskille in kwalifikasies en beleid vir veeartsenykunde, veral tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande. Die SA Veeartsenykundige Raad (SAVR) is sedert 2007 betrokke by ’n internasionale werkgroep wat vereistes vir wêreldwye akkreditasie in die professie bestudeer. “Dit gaan ’n radikale invloed op veeartsenykundige opleiding in die toekoms hê,” sê hy.
Die UP se hersiende veeartsenykundige voorgraadse studie sal vir ’n enkele graad wees in teenstelling met pas afgestudeerde veeartse wat in die sewe jaar-studietydperk ’n BSc.- en ’n BVSc.-graad behaal het. Die studietydperk word verkort na ’n ses jaar-kernprogram wat daarop gemik is om studente toe te rus met beginvermoë in hul veld van keuse.
Die nuwe program behels ook opleiding in lewensvaardighede soos leierskap en studente sal deurlopend beoordeel word. “Leiding en ondersteuning uit die professie is noodsaaklik en nagraadse studie gaan al hoe belangriker word,” het Swan gesê.
Dr. R. Moerane, voorsitter van die SAVR, sê daar is wêreldwyd ’n tekort aan veeartse en volgens dr. A. Fleming, ondervoorsitter van die organisasie, het Suid-Afrika veral staatsveeartse nodig wat in landelike gebiede werk, waar hulle ’n verskil tussen sukses en mislukking vir opkomende boere kan beteken.
Lees ook:
Verpligte gemeenskapsdiens vir veeartse
2 Desember 2009