Onbeheerde hervestiging van diere tussen provinsies sonder om vooraf te bepaal watter risiko's dit in die nuwe omgewing inhou, gaan stopgesit word.
Nuwe konsepregulasies en -lyste vir uitheemse en indringerspesies is in die Staatskoerant gepubliseer vir openbare kommentaar. Daarvolgens word indringers in kategorieë ingedeel vir verbode spesies, indringerspesies en spesies wat vrystelling geniet.
Blou- en Swartwildebeeste, Bles- en Bontebokke, Waterbokke, Nyala's, rooibokke en kameelperde is van die inheemse spesies wat saam met uitheemse spesies, soos Derby en Livingstone Elande, en Lichtenstein Hartebeeste in die kategorie indringerspesies val, waarvoor gebiedsbeheer geld.
Kaarte van gebiede waar beheer van uiterste belang is vir vis- en soogdierverspreiding, sal binne 'n jaar geplubliseer word. Oumansoutbos, sigorei, verskeie wattel- en bloekombome val ook in dié kategorie.
Die Departement van Omgewingsake en Toerisme sê in 'n mediaverklaring 'n strategie vir samewerking met die Departement van Landbou en van Waterwese en Bosbou, asook provinsiale en plaaslike strukture word opgestel om die regulasies in werking te stel.
Kommentaar oor die konsepregulasies en -lyste moet die departement binne 30 dae bereik. Dit kan gestuur word aan die Direkteur-generaal: Departement van Omgewingsake en Toerisme (vir aandag: mnr. Bonani Madikizela), P/Sak X447, Pretoria 0001 of gefaks word na 012 320 2733, of per e-pos gestuur word na bmadikizela@deat.gov.za.
Klik hier om die die dokumente aanlyn te lees.
6 April 2009