'n Moderne laboratorium, waar onder meer grond en water ontleed kan word en inligting oor plantvoeding en mikro-organismes ingewin kan word, is pas deur Omnia Kunsmis in Sasolburg bekend gestel.
Omnia is, sover bekend, die enigste kunsmismaatskappy met hierdie soort gerief ter wêreld en maak die maatskappy 'n wêreldleier op die gebied van chemiese analise. "Deur op die voorpunt van tegnologiese ontwikkeling in die landbou te bly, het dit Omnia in staat gestel om sy kliënte kundiges in hul gebied te maak. Geen moeite word ontsien om ons kliënte toe te rus om risiko's te verminder en volhoubare boerderye te bedryf nie, " het mnr. Rod Humphris, voorsitter, gesê.
Mnr. Trevor Grant, besturende direkteur, sê redelik onlangs nog was kunsmis weinig meer as superfosfaat. "Dit het die boer se opsies beperk en die gehalte van sy produkte was ook beperk. Daar was egter 'n ontploffing in die vooruitgang van wetenskap en tegnologie. Die voorste boere vandag is diegene wat die gesofistikeerde stelsels en tegnologie aanwend om die hoogste opbrengs, gehalte en wins te verseker."
Die Chemtech Agri Laboratorium is teen meer as R6 miljoen uit die ou laboratorium ontwikkel wat in 1968 die lig gesien het met twee analiste wat 26 monsters per dag kon hanteer. Vandag word meer as 2 000 monsters per dag hanteer. Toetse vir lande so ver as Nieu-Seeland weor daar gedoen.
"Die beste praktyke van laboratoriums wêreldwyd plus ons eie unieke innoverings word hier toegepas," het mnr. Renier Rabie, hoof van Chemtech Agri, gesê.
Landbouweekblad, 27 April 2007