
Die chemiese maatskappy wat hom op die mynbou-, chemiese en landboumark toespits, Omnia, het oor die afgelope ses maande ‘n verlies van R99 miljoen gely. Dit ná hy tydens die bekendstelling van sy vorige tussentydse finansiële resultate ‘n wins van R373 miljoen getoon het.
Die maatskappy se tussentydse resultate tot September is in Johannesburg bekend gemaak. Die chemiese reus se algehele omset is 22% laer as dieselfde tydperk verlede. Waar dit toe op R5,5 miljard gestaan het, staan dit tans op R4,2 miljard. Dit beteken dat elke aandeel ‘n verlies van 218,2 sent gely het.
Mnr. Rod Humphris, uitvoerende hoof, sê ‘n daling in verkoopsvolumes en 21%-versterking in die rand is die grootste bydraende faktore vir die swakker resultate. Omnia se landbou-afdeling se halfjaar-omset staan tans op R1,5 miljard, vergeleke met R 2,154 miljard. Waar daar in die vorige halfjaar ‘n bedryfswins van R 312 miljoen was, het die maatskappy oor die afgelope ses maande ‘n verlies van R218 miljoen gely.
“Die vorige resultate was uitsonderlik,” het Humphris gesê. “’n Verlaging in vraag in die tweede helfte van daardie jaar (2008/’09) het daartoe gelei dat baie voorraad oorgedra is.” Dié voorraad het uiteindelik ‘n verlies van R350 miljoen tot gevolg aangesien pryse afwaarts aangepas moes word.
Verlede jaar het kliënte die norm verbreek en minder Omnia-produkte in die tweede helfte van die jaar gekoop. Humphris voorspel egter dat dié tendens weer vanjaar sal verander en verwag dus dat verkope sal toeneem.
1 Desember 2009