
Die Departement van Handel en Nywerheid se ondersoek na Suid-Afrika se parsvermoë van sojabone en beleggingsmoontlikhede in dié bedryf is allerweë verwelkom. Dit volg op ’n hewige debat oor die omvang van binnelandse parsvermoë en onderhandeling tussen Graan SA en die departement daaroor.
Die debat was in reaksie op ’n aanbeveling oor produksieruimte deur Graan SA dat boere in die komende seisoen hul aanplantings van sojabone drasties moet inkort. Mnr. Gerhard Scholtemeijer, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), het Graan SA se berekenings sterk betwyfel.
Hy meen binnelandse verwerkingsvermoë vir sojabone is rondom 1 miljoen ton. Mnr. Bongani Lukhele, ’n woordvoerder van die Departement van Handel en Nywerheid, het bevestig dat die departement met ’n voorlopige ondersoek begin het.
“Soja-oliekoek is steeds die naasgrootste landbou-invoerproduk na Suid-Afrika. Gegewe die land se agronomiese potensiaal om sojaboonproduksie te verdriedubbel, mag daar geleenthede wees om beleggings in sojaboonverwerking te vergroot. Verhoogde sojaboonverwerking sal Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde soja-oliekoek verminder,” het Lukhele gesê.
3 November 2009