
Die landbou-inspeksiediens, Agri Inspec, het verdere ondersoeke na Namibië se vel- en huidbedryf ingestel nadat hy beslag gelê het op sowat 80 000 skaap- en beesvelle wat onwettig vanaf Namibië na Suid-Afrika uitgevoer sou word. Die velle was deel van vyf besendings wat tussen September en November vanjaar uitgevoer sou word.
Mnr. Jan Brits, senior projekbestuurder, sê van die maatskappye sou velle wat R18 werd is, teen 50 sent per vel verklaar om veral doeanebelasting vry te spring. Die pryse het ook die Suid-Afrikaanse bedryf skade berokken aangesien die ingevoerde velle baie goedkoper as dié in die plaaslike mark is.
“Die waarde waarop sommige van die velle verklaar word is belaglik laag en dit bedreig die Suid-Afrikaanse bedryf”. Volgens Brits sou van die verwerkers ook verklaar dat die velle verwerk is, terwyl die velle duidelik onverwerk was.
Die maatskappye is reeds boetes van ‘n 60% heffing op die werklike waarde van die velle opgelê, en hulle moes ook belastingboetes betaal. Brits sê tot op hede het die maatskappye sowat R200 000 aan boetes betaal.
8 Desember 2009