
Afri Compliance bied nou ’n gespesialiseerde opleidingsprogram vir die veevoerbedryf aan om betrokkenes in dié bedryf te help om die bedryf se gedragskode na te kom. Die eerste maatskappy om een van dié seminare by te woon, was Afgri Veevoere. “Ons is bevoorreg om die eerste deelnemers aan dié opleidingseminaar te wees,” sê mnr. Henry Cottle, besturende direkteur.
Veevoere word ingevolge die Wet op Veevoer geregistreer. Dié wet reguleer ook die verkoop en gebruik van verwante produkte en plaas verantwoordelikheid op werkgewers en -nemers om kennis te dra van die produkte waarmee hulle werk.
In die 1980’s en vroeë 1990’s het die Departement van Landbou die opleiding van werkenemers van veral koöperasies en maatskappye in dié verband, asook veranderinge in die wet, behartig. Luidens ’n verklaring van Afri Compliance is daar ’n leemte op dié gebied ná ’n verandering in regulasies wat dié verantwoordelikheid op die skouers van werkgewers geplaas het.
Die nuwe opleidingskursus dek die volgende:
• Alle toepaslike aspekte van Wet 36/1947 en gepaardgaande regulasies.
• Opberging en pakskuurpraktyke.
• Die hantering van verouderde en beskadigde produkte.
• Optrede tydens en voor aankope.
• Die regte van personeel.
• Raadgewing.
Bel Afri Compliance se hoofkantoor by tel. 012 347 0320 vir meer inligting oor sy dienste.
12 Oktober 2009