
Die oudste Suid-Afrikaanse landbouskou vier vanjaar sy 163ste bestaansjaar. Die Royal-landbouskou in Pietermaritzburg wat van 23 Mei tot 1 Junie vanjaar sal plaasvind, is elke jaar een van die mees gesogte vertonings-geleenthede vir veeboere dwarsoor die land.
Vanjaar word drie skaaprasse, die Suffolk, Border Leicester en Hampshire Down, se nasionale kampioenskappe by die Royal gehou. Daar gaan meer as 1 500 diere op die skouterrein te sien wees.
Die grootste uitstalling van byeboerdery in Suid-Afrika en bykans elke trekker en werktuigvervaardiger sal hier te sien wees. Daarbenewens het die vervaardigers van grondverskuiwings- en swaardiens-werktuie nie teruggestaan om ook by die Royal-skou hul produkte uit te stal nie.
Verwag talle besoekers
Volgens die hoof uitvoerende beampte van die Royal-landbougenootskap van Natal, mnr. Terry Strachan, sien hulle uit na nóg ’n suksesvolle jaar en hulle verwag in die omgewing van 200 000 besoekers. “Suid-Afrikaners boer in uitdagende omstandighede. Die politiese situasie gee allermins gemoedsrus, kostes styg sonder keer en gesubsidieerde mededinging uit die buiteland sny die bietjie binne-vet wat daar was, weg. Om dan die positiewe ingesteldheid, entoesiasme en die uitstekende gehalte van alle uitstallings hier by die skou te sien, is merkwaardig,” verduidelik Terry.
Die interaksie tussen dorp en plaas is die belangrikste aspek wat die Royal-skou en die genootskap in die algemeen nastreef. “Die skou is ’n tweerigting-leivoor vir inligting en opvoeding tussen diegene wat kos produseer en die verbruiker. Ons ideaal is om die katalisator te wees vir wedersydse begrip van alle rolspelers deur die voedselketting. Vir hierdie doel moet ons so inklusief as moontlik ’n platform skep vir alle produsente in die land om hulle bedrywighede hier ten toon te stel,” verduidelik Terry passievol.
Benewens al die landbou-verwante aktiwiteite is daar ook binnenshuise uitstallings van 8 500 m2 met onder meer binnenshuise versiering, kuns en kultuur, landelike veiligheid en leefstyluitstallings te sien, vertel Terry. “Ons wil geen bedryf voortrek of marginaliseer nie, maar aan almal ’n gelyke blootstelling en geleentheid bied.”
Die skou het ook ’n ernstige sy en vanjaar het Agri-Securitas, in samewerking met Nissan, Kwanalu en die Royal- landbougenootskap, ’n fondsinsameling-dinee vir die 28ste Mei gereël. Die invorderings sal ten bate van landelike veiligheid aangewend word. Stefan Terblanche, die oud-Springbok, sal die seremoniemeester by die geleentheid wees. Gary Teichman, die voormalige Springbok-kaptein wie se familie steeds in KZN boer, sal die gasspreker wees. Vir meer inligting en besprekings kontak Juanita De Matta by 084 514 5180 of Juanita@silvercrestevents.co.za