Die nuwe aanleg is op 17 Oktober deur die Zambiese minister van landbou, mnr. Ben Kapita, geopen.
In 'n onderhoud het mnr. Nick Goble, streekbestuurder vir Afrika, gesê hy sien Zambië as die fokuspunt vir Pannar se groei in Afrika. Dié land is sentraal geleë en die toestande om saad te vermeerder is van die beste ter wêreld.
Dit sal maklik wees om aangrensende lande, soos die Demokratiese Republiek van die Kongo, Tanzanië, Malawi, Kenia, Mosambiek, Zimbabwe en Suid-Afrika, vandaar te bedien met saad van gehalte wat daar geproduseer en verwerk is.
Die onderneming besef dat verskeie Afrikalande unieke vereistes het en fokus op markte waar mielieverbouing deel van die bevolking se kultuur is en boere graag beter kultivars wil gebruik.
Dit het daartoe gelei dat die onderneming nou maatskappye in agt Afrikalande het wat werk aan sowat 150 permanente werkers verskaf.
Die kommersiële boere in dié lande se behoeftes is baie soortgelyk aan dié van Suid-Afrika en daar het die onderneming 'n baie mededingende reeks produkte met Pan 6777 nou waarskynlik die beste aangepas.
Daarteenoor plaas die kleinboere 'n groter premie op graangehalte, smaak, voorkoms en natuurlike weerstandbiedenheid teen siektes en vogstremming.
Dié inligting wat hulle eerstehands van boere verkry, word na die saadtelers oorgedra wat dan poog om die beste mielies te kweek vir dié boere. Die oogmerk is om dié program nog verder uit te brei in Afrika.
Pannar is al 25 jaar in Zambië in die saadbedryf betrokke en Lusaka word as die ideale ligging vir so 'n aanleg beskou omdat groeitoestande daar so gunstig is en Zambiese saadkwekers 'n baie hoë standaard handhaaf.
Mnr. William Rutherford-Smith, besturende direkteur van die onderneming in Zambië, is baie opgewonde oor die aanleg wat die geslaagde volvoering is van jare se beplanning en toegewyde werk. Hy glo dit sal die onderneming se vermoë om Afrikalande te bedien, aansienlik vergroot.
Hy sê Pannar is trots op sy betrokkenheid in Afrika en sal sy beleggings na nog meer lande uitbrei om uitstaande genetiese materiaal en sy kennis ten opsigte van saadproduksie en bemarking met hulle te deel.
Landbouweekblad, 26 Oktober 2007