
Laer produksiekoste, kostebesparing en hoër verkoopsvolumes is van die redes vir die voedselgroep Pioneer Foods se noemenswaardige styging in verdienste vir die boekjaar tot einde September. Die maatskappy besit handelsmerke soos Bokomo Foods, Ceres Beverage Company en Sasko.
Die maatskappy het aangekondig dat die verdienste per aandeel 12% tot 31% hoër is as ’n jaar gelede, luidens ’n berig op Fin24.com. Pioneer het geen geld opsy gesit vir ’n moontlike boete van die Mededingingstribunaal rakende die optrede van ’n vermeende broodkartel in die broodbedryf nie.
“Ons het reeds gesê ons was nie deel van die nasionale kartel nie en dít is hoekom ons nie vir ’n boete voorsiening gemaak het nie,” sê mnr. André Hanekom, die groep se hoof uitvoerende beampte. Indien skuldig bevind, kan Pioneer met tot 10 % van sy broodafdeling se verdienste in 2007 beboet word.
Medebeskuldigdes Tiger Brands en Foodcorp is onderskeidelik met R98 miljoen en R45 miljoen beboet. Premier Foods is ’n boete gespaar in ruil vir sy getuienis in die saak.
Bron:
21 Oktober 2009