
Die optrede van ongeregistreerde plaagbestrydingsoperateurs wat die publiek en boere mislei, neem toe, sê dr. Gerhard Verdoorn van die Griffon-gifinligtingsentrum.
Volgens hom kan dié operateurs se onprofessionele diens dikwels tot ongunstige gevolge vir menslike gesondheid en die omgewing lei en gewasse beskadig. Plaagbestrydingsoperateurs se bedrywighede word gereguleer deur die Wet op Misstowwe, Veevoere, Landboumiddels en Veemiddels.
Enige individu wat plaagbestrydingsdienste aan die publiek, sakesektor of landboukliënte vir finansiële vergoeding aanbied, moet geregistreer wees om aan algemene plaagdoderveiligheidsbeginsels te voldoen. Volgens Verdoorn, wat namens die Plantbeskermings- en Dieregesondheidsvereniging (Avcasa) optree, is dié instansie bewus van operateurs wat vrugtevlieë vir Wes-Kaapse boere bestry, wat nie geregistreer is nie en dus nie gekwalifiseer is om sulke dienste aan te bied nie.
Toedieningstoestelle wat deur ongeregistreerde operateurs gebruik word, is boonop nie geskik om plaagdoders doeltreffend en veilig toe te dien nie.
Avcasa versoek ook die publiek om nie individue of maatskappye wat nie by die Registrateur van Wet 36 van 1947 geregistreer is nie, vir plaagbestryding te gebruik nie. Navrae: Mnr. Tom Mabesa, uitvoerende direkteur van Avcasa, sel 082 657 5329 of Verdoorn by sel 082 446 8946.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 17 Julie 2009.
14 Julie 2009