
’n Equalizer-minimumbewerking-perseelplanter is onlangs aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe geskenk. Dié skenking wat deur die maatskappy Theebo Tech, beter bekend as Equalizer, in Brackenfell vervaardig word, is ’n welkome toevoeging tot die departement.
“Die universiteit het agter geraak met sy toerusting. Tans het ons ’n ligte, klein planter wat ’n gelyke, skoon en ferm saadbed vereis en dus verskeie bewerkings benodig. Die Equalizer-perseelplanter stel ons nou in staat om in enige grondtipe en toestande ’n verskeidenheid van gewasse suksesvol te kan vestig. Voorts kan bedryfsgerigte navorsing gedoen word om die winsgewendheid van boere te verseker,” het prof. Nick Kotzé, voorsitter van die departement, gesê.
Die Equalizer is ’n veeldoelige ontwerp wat na gelang van die planttoestande as ’n skyf of tandplanter aangewend kan word. Volgens mnr. Gideon Schreuder, besturende direkteur van Theebo Tech, sal die planter studente help om goeie inligting te versamel vir verdere navorsing en ontwikkeling, maar wat ook herlei kan word tot voordeel van boere.
Benewens die oorhandiging van die planter is die wenner van die agronomie departement se kompetisie vir die beste landbouaanhaling ook bekend gemaak. Die kompetisie is deur mnr. Tonderai Mandizvidza, ’n meestersgraadstudent in agronomie, gewen vir sy aanhaling: “My oupa het altyd gesê ’n mens het ten minste een keer in jou lewe ’n dokter, ’n prokureur, ’n polisieman of ’n dominee nodig, maar elke dag, drie keer ’n dag, het jy ’n boer nodig.” Prof. Leopoldt van Huysteen, bedryfshoof van die Universiteit van Stellenbosch, het die prys oorhandig.
Op die meegaande foto verskyn:
Hier verskyn profs. Danie Brink, waarnemende dekaan van die fakulteit fakulteit agriwetenskappe landbouwetenskappe (links) en Nick Kotzé, voorsitter van die departement agronomie (heel regs) saam met die span van Theebo Tech.