
Ekonome sê dit is moeilik om te bepaal of die daling in die inflasiekoers ‘n regstreekse gevolg is van die laer pryse wat boere tans kry of weens die daling in internasionale kommoditeitspryse.
Statistieke SA het vroeër vandag bekend gemaak die inflasiekoers vir verlede maand het op 5,8% te staan gekom, ná sommige ekonome verwag het dat dit uit die Reserwebank se teiken van tussen 3% tot 6% sou beweeg. Die inflasiekoers het in die vorige maand vir die eerste keer sedert April 2007 in die teikenband inbeweeg, toe dit 5,9% was.
Volgens mnr. Freddie Mitchell van die Efficient-groep kan die daling aan ‘n algemene daling in veral voedelpryse toegeskryf word. Hy sê die voedselprysindeks van die inflasiekoers is nou deel van die topses indekse wat tot ‘n verlaging in inflasie gelei het.
“Die indeks staan tans op 4,7%, terwyl dit aan die begin van die jaar 15,7% was.” Mitchell sê nog ‘n indeks wat positief tot die inflasie-daling bygedra het, is die indeks vir huishoudelike ware en -dienste. Dit het tot 7,4% verlaag, terwyl dit in die res van die jaar 12% tot 13% was.
Mitchell sê die inflasiekoers het die afgelope paar maande se daling in produsentepryse gevolg deur ook te verlaag. Hy sê dit is tans moeilik om te bepaal waaraan die daling in produsentepryse toegeskryf kan word, veral omdat kleinhandel- en groothandelvraag grootliks onveranderd is.
Die indeks toon ‘n jaar-tot-jaar-styging in die prys van melk, kaas, eiers, vis, vleis en veral vrugte en groente (wat met 12% tot 13% gestyg het).
Mitchell voorspel dat die inflasiekoers vir vandeesmaand effens kan styg en op 6% te staan sal kom. Dié syfer word volgens Statistieke SA op 27 Januarie 2010 bekend gemaak.
17 Desember 2009