
Wynliefhebbers regoor die land kan vanjaar se Veritas-wenwyne binnekort in Johannesburg, Kaapstad en Durban proe. Spesiale proegeleenthede van uitsoekwyne sal ook in Port Elizabeth en Knysna plaasvind.
Om vanjaar se Veritas dubbelgoud- en goudwenners te proe, kan jy die openbare proegeleenthede in Kaapstad by die VOC-kamer in die Southern Sun, Cape Sun, in Strandstraat op 21 Oktober tussen 17:00 en 20:00 teen R120 bywoon. Gauteng wynentoesiaste kan teen R130 die Bill Gallagher-kamer van die Sandton-konferensiesentrum op 27 Oktober tussen 17:00 en 20:00 besoek. Durbaniete moet hulle plek op 5 November tussen 17:00 en 20:00 by die funksie-kamer in die Deloittes se hoofkantoor in Umhlanga teen R100 bespreek.
‘n Keur van die Veritas-kampioene sal in Port Elizabeth by die Squires Legendary Grill in die Boardwalk-sentrum in Kusweg op 10 November tussen 18:00 en 19:30 te proe wees. Dié aansit-proegeleentheid sluit ligte versnaperinge teen R100 in. In Knysna sal die wenwyne op 11 November vanaf 19:00 vir kos-en-wynparing by Kilzers Kitchen teen R200 gebruik word. Kilzers sal ook ‘n aansit-proegeleentheid met geselekteerde wyne en versnaperinge op 12 November tussen 18:00 en 20:00 teen R110 aanbied. ‘n Verskeidenheid van die Veritas-wyne sal tussen 16 en 18 Oktober by die From the Earth-ekspo in die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum (KIKS) te proe wees.
Slegs ‘n beperkte aantal kaartjies is beskikbaar. Kaartjies vir die geleenthede in Kaapstad, Johannesburg en Durban is by Computicket-takke of aanlyn by www.computicket.com beskikbaar. Besprekings vir Port Elizabeth en Knysna moet by die onderskeie restaurante gedoen word. Besoek www.veritas.co.za vir meer inligting.
30 September 2009