Genoeg sink as spoormineraal in landbougrond is noodsaaklik vir normale gewasproduksie. Daarsonder kan optimale oesopbrengste by die meeste landbougewasse nie behaal word nie.
'n Wye reeks gewasse, waaronder kleingrane, mielies, voergewasse, droëbone, sojabone, aartappels, neute, verskeie groentesoorte en boordgewasse (soos sitrus en perskes) en nie-voedselgewasse (soos katoen en tabak), sal deur sinktekorte verhinder word om optimale produksie te lewer.
Waar gewasproduksie deur 'n sinktekort belemmer word, kom gehalte- en opbrengsverliese van so hoog as 30% voor sonder dat die plante 'n sigbare gebrek aan diespoormineraal toon.
Met sinkaanvulling is onder meer bevind dat aansienlike opbrengsverbeterings verkry kan word - tot soveel as twee ton per hektaar by mielies. Hierdie verhoogde prestasie is ongeag die beskikbaarheid van genoeg stikstof, fosfaat en kalium asook voldoende water behaal.
Noodsaaklik vir groei
Sink is een van agt spoorelemente wat noodsaaklik is vir normale en gesonde plantegroei. Gewasse benodig sink in klein hoeveelhede sodat verskeie fisiologiese prosesse, soos suiker- en proteïenvorming, plantvrugbaarheid en saadproduksie, normaal kan plaasvind.
Sink tree terselfdertyd as groeireguleerder op en bevorder plantgesondheid en die gehalte van opbrengste.
Afgesien van sinktekorte in die grond is daar ook ander faktore wat 'n rol speel in die opneembaarheid van diespoormineraal deur die plant. Dit sluit grondsuurheid, die beskikbaarheid van kalsiumkarbonaat en die fosfaatstatus van die grond in. Laasgenoemde wys dikwels die gebrek aan genoeg sink in grond uit wanneer nuwe, hoogs produserende graankultivars met 'n hoë fosfaatbehoefte aangeplant word.
Tipies word 0,5% sink by sekere formulasies kunsmis vir die Suid-Afrikaanse mark ingesluit.
Kostedoeltreffend
Waar die boer sinktekorte moet aanvul, toon grondontledings dikwels dat die peile daarvan vir etlike seisoene voldoende is. 'n Mens moet nogtans onthou dat hoogs produserende gewasse die druk op die beskikbare sink in die grond verhoog.
Die opheffing van sinktekorte deur die gebruik van sinksoute, soos sinksulfaat, is kostedoeltreffend. Dit kan as 'n sinktoediening op sigself of as deel van 'n kunsmismengsel toegedien word. Om sinktekorte op kort termyn reg te stel, kan 'n sinktoediening ook in die vorm van 'n blaarbespuiting gedoen word.
Die onderneming Zinchem van Benoni is die grootste vervaardiger van onder meer sinksulfaat in Afrika. Hierdie onderneming is 'n afdeling van die groot Zimco-groep van maatskappye, wat op sy beurt deel van die internasionale Ecobat-groep van maatskappye is. Die Ecobat-groep bestaan uit dosyne wêreldleier-maatskappye in Amerika, Europa en Suid-Afrika.
Zinchem voorsien onder meer talle sinkprodukte, waaronder sinksulfaat, plaaslik én in die buiteland aan mense in die mynbou, verfbedryf, rubberbedryf, veevoerbedryf en die landbou.
Groter bewustheid
Omdat die maatskappy se produksieprosesse aan ISO 9001:2000-standaarde voldoen, het gebruikers van Zinchem se produkte die gerusstelling dat dit van hoogstaande gehalte en suiwerheid is. In die vervaardigingsprosesse word verskillende prosesse vir gehaltebeheer streng toegepas, terwyl 'n volledige ouditspoor ook die naspeurbaarheid van produkte moontlik maak.
Gewasboere kan die sinkstatus van hul grond (en dus moontlike sinktekorte) deur grond- en blaarontledings bepaal. Zinchem is daarop ingestel om sink regstreeks aan boere te voorsien sodat hulle tekorte daarvan kan ophef.
Omdat 'n oormaat sink in die grond nadelig kan wees, moet toedienings of aanvullings met verantwoordelikheid gedoen word. As boere 'n groter bewustheid oor sinktekorte het, kan hulle die nodige regstellende stappe betyds doen sodat hulle beter oesopbrengste kan behaal.
Navrae: Mnr. Allan Liston, tel. 011 746 5000 of sel 082 492 6235.
28 Mei 2008