
Delheim by Stellenbosch bied sedert 2010 jaarliks ’n sampioenjag aan, gewoonlik in die middel van Junie. Mev. Nora Sperling Thiel verduidelik dat die klimaat net reg moet wees vir die ontwikkeling van sampioene en dat die verskillende soorte seisoensgebonde is. “Ons sampioenjag is gewoonlik sowat twee weke ná die eerste reën in Junie. Eetbare boleet-sampioene (Boletus edulis) is veral vir sowat ses weke in daardie tyd volop.”
Raad vir jou sampioen-jagtog:
*“Gaan jag saam met ervare mense,” sê Nora. Die verskille tussen eetbare en nieeetbare sampioene is soms baie klein, wat identifikasie moeilik maak, veral vir die onervare oog.
* Moenie ou of jong sampioene pluk nie, want dit maak identifikasie moeilik. Dit is byvoorbeeld maklik om die heerlike vals tieramaniet (Amanita rubescens) maklik met die dodelik giftige tiersampioen (Amanita pantherina) te verwar wanneer dit nog jonk is.
* Moenie sampioene gaan pluk net ná dit gereën het nie, want die reën kan die kleur van die sampioene beïnvloed.
* Pluk sampioene vroeg in die oggend. Dan is daar minder mededinging met ander “jagters” en die sampioene sal ook varser wees.
*Mnr. Gary Goldman, die "Mushroom Guru", beveel aan dat jy nie die sampioene afsny nie, maar versigtig – met ’n effense draaibeweging – met die hand uithaal. Volgens hom sal dit help om produksie te stimuleer.
* Vat ’n goeie messie saam. Maak die sampioene skoon voor jy dit in ’n houer pak deur die boonste lagie versigtig met die messie af te skraap.
* Gebruik ’n goed geventileerde houer, soos ’n mandjie – nie ’n plastieksak nie – om die sampioene in te bêre. Moenie eetbare en nie-eetbare soorte saam inpak nie.
* As jy nie seker is of dit veilig is nie, los dit eerder of pak dit afsonderlik in sodat jy iemand kan vra om dit vir jou te identifiseer. Volgens Gary is die Death Cap-sampioen die giftigste een wat daar is. Dit smaak glo ongelooflik lekker, maar jy sal ná vier dae van vreeslike pyn daarvan doodgaan. Die simptome begin gewoonlik eers sowat 4 uur tot 16 uur nadat jy dit geëet het.
* Pluk net soveel sampioene as wat jy kan gebruik. Sampioene moet verkieslik op dieselfde dag gaargemaak word waarop dit gepluk is.
* Gary se gunstelingmetode is om dit net so in ’n bietjie olyfolie en botter te braai.
* Sampioene sal drie dae lank in die yskas hou, of kan gedroog word om dit later te gebruik.
* Moenie sampioene met water afwas nie, vee dit eerder af met ’n klam lap.