Boere moet betrokke raak by plaaslike owerhede. Dit is die enigste manier om 'n mate van realisme oor grondbelasting by dié owerhede te vestig.
Daar is reeds talle ongekoördineerde en onrealistiese uitsprake oor grondbelasting van die kant van plaaslike owerhede gedoen. Só was daar in 'n stadium in die Laeveld selfs sprake van belasting van so hoog as 28 %. Dit sal mos beteken dat 'n boer in minder as vier jaar sy eie grond weer terugkoop, sê mnr. Edward Vorster, voormalige voorsitter van Agri-Noord.
"Ons moet betrokke raak by ons plaaslike owerhede, want dit is die enigste manier om 'n mate van realisme by hierdie ouens te vestig."
Mnr. Bully Botma, voorsitter van Graan SA, sê die landbou is baie onseker oor grondbelasting. Boere is nie seker wat hulle in ruil vir hierdie belasting gaan terugkry nie. Oënskynlik is dit maar net 'n manier van die owerhede om 'n groter inkomste te kry. Dit lyk of die grondeienaar nou 'n melkkoei geword het.
Mnr. Charl Senekal, die Landbouskrywersvereniging van Suid-Afrika se Nasionale Boer van die Jaar vir 2002, sê dit is verstaanbaar dat inkomste vir plattelandse ontwikkeling gegenereer moet word. Om dit deur middel van belasting op landbougrond te doen, kan egter tot baie onvoorsiene probleme lei.
Boere word tans aan vinnig stygende produksiekoste blootgestel. Die devaluasie van die rand het reeds prysverhogings van 30 % op kunsmis en chemiese middels veroorsaak, met gepaardgaande laer winsgrense en grondwaardes. Grondbelasting sal hierdie negatiewe faktore aanhelp. Volgens voorspellings sal grondbelasting van 2 % op plaasgrond (verbeterings uitgesluit) 'n verlaging van 21 % in netto plaaswins veroorsaak.
Hy sê dit is belangrik dat grondbelasting net op onverbeterde grondwaardes gehef moet word. Daar moet eenstemmigheid tussen verskillende munisipaliteite in hul benadering tot grondbelasting wees. Tans kom onaanvaarbare groot verskille in die belastingskale voor.
Die wetgewing oor eiendomsbelasting moet nog gefinaliseer word. Hopelik sal dít aandag aan hierdie probleme gee, sê mnr. Senekal.
Mnr. Deon Bothma, Graanprodusent van die Jaar vir 2002, sê grondbelasting is niks minder nie as net nóg produksiekoste wat die boer van iewers sal moet probeer verhaal. Dit sal waarskynlik in die vorm van vermindering van arbeid wees, wat weer werkloosheid sal laat styg.
Die owerhede sal die gans slag wat die goue eiers lê as hulle onrealisties hoë grondbelasting op boere afdwing. àl die plattelandse dorpe is grootliks van die landbou vir hul ekonomiese welvaart afhanklik. As dit met die landbou goed gaan, gaan dit ook met dié dorpe se besighede goed.
Indien die munisipaliteite te veel grondbelasting van die boere wil vorder om hul eie begrotings te laat klop, sal dit die boere se winsgrense, wat reeds baie klein is, só erg skaad dat daardie boere sal ondergaan. Dan is só 'n dorp 'n waardevolle ondersteuner kwyt.
10 Januarie 2003