
Dié vraag van Eugene Bentley op Landbouweekblad se Facebook-blad is seker die kern van die debat oor die droogte in Suid-Afrika. Hoekom “droogtehulp” in die vorm van aalmoese wat hier en daar uitgedeel word, feitlik net vir opkomende boere beskikbaar is. Terwyl die ergste droogte in 100 jaar talle boere op hul knieë het.
Juis oor dié sake sou menige boer se kop verseker gehang het as hy kon luister na mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye se begrotingtoespraak onlangs in die Parlement. En veral die debat daarna.
'n Groep landboumense het dié toespraak en die debat in die Nasionale Vergadering bygewoon. Sommige was daar op uitnodiging van me. Annette Steyn, die DA se skadu-landbouminister.
Van die besoekers op die galery het baie moeite gedoen om na Zokwana se rede te gaan luister, soos die span van Subtrop, wat onder leiding van mnr. Derek Donkin, hoof uitvoerende beampte, van Tzaneen gereis het. Mnr. Piet Prinsloo van die ZZ2 Boerdery en Trevor Dukes, HUB van The Fruit Farm Group SA was ook deel van die groep. Van die ander bekendes op die openbare galery was mnr. Dan Kriek, voorsitter van Vrystaat Landbou, dr. Pieter Prinsloo van die RPO, mnre. Bennie van Zyl van die TLU SA, Leon de Beer van die NWKV, Carl Opperman van Agri Wes-Kaap en Orton King van die AgriMega-groep.
Spoed van afslaer
Nadat Zokwana sy rede teen die spoed van 'n afslaer op 'n veiling gelees het, het die parlementêre sepie begin, soos wat Suid-Afrikaners gewoond geraak het aan televisie-uitsendings uit die Nasionale Vergadering. Die politieke partye het hul rangordes opgestel om aan die debat deel te neem, en van die besoekers op die galery sou telkemale die kop in ongeloof skud. Dit was duidelik dat die verkiesingsjaar die regerende party se aandag ten volle in beslag geneem het, vol retoriek.
Gevra om hul kommentaar oor die rede en die debat ná die tyd, het Donkin gesê: “Dit is moeilik om iets te sê oor die droogtehulp-situasie en die Regering se besluite daaroor. Dit was wel duidelik dat die Regering nie in hierdie stadium die droogte as ‘n noodtoestand gaan verklaar nie.”
Dr. Pieter Prinsloo het gesê hy plaas nou maar sy hoop op Finansminister Pravin Gordhan se interim-begroting in Oktober vir hulp. “Ons het drie versoeke, in samewerking met Agri SA, gerig: Dit is 'n subsidie op vee-lenings om kuddes weer op te bou, 'n subsidie op produksielenings vir die aanplant van gewasse om die voertekorte aan te vul en 'n subsidie op plaaswerkerlone om werkverliese te keer.
“Die enigste hulp wat wel genoem is is die REM-lenings met subsidies op rente deur die Land Bank. Die bedrag van R400 miljoen is genoem. Boere moet sorg dat hulle hierdie aanbod gebruik. Ons is bevrees dat Oktober hulp reeds te laat sal wees aangesien ons die winter reeds tekorte aan ruvoer gaan beleef.
“ 'n Teleurstelling is die voortgesette politieke aanvalle op opposisiepartye gedurende die debat, wat myns insiens onvanpas is tydens dié debat wat vir ons almal so belangrik is. Die uitgebreide hulp aan kleinskaalse boere is niks anders as armoede-verligting nie en gaan niks wesentlik bydra tot voedselsekuriteit en die bekamping van voedsel-inflasie nie! Politiek speel ongelukkig die hoofrol in hierdie begrotings!”
'Stoei met myself'
Mnr. Bennie van Zyl, wat die begrotingsrede ook bygewoon en voor die tyd by Landbouweekblad se Kaapse kantoor kom kuier het, sê: “Toe ek wegry van die begroting stoei ek met myself oor dit wat ek ervaar het, en dan kom die vraag by my op: Wie gaan die wenner hieruit wees? Dis baie moeilik om te sien dat dit die landbou gaan wees.
“Die wyse hoe die Regering sy begrotings in departemente hanteer, vergeleke met suksesvolle maatskappye, is vir my baie interessant: Ek dink as maatskappye só te werk gaan sal ons nogal jaarliks heelwat bankrotskappe ervaar! Die fokus is gewis meer op swart bemagtiging, ongeag die uitkoms daarvan teenoor waar dit na my mening behoort te wees – naamlik hoe kan die Departement van Landbou ondersteunend wees teenoor boere om hulle in produksie te kan hou.
“Die begrotingsdebatte het ontaard in die motivering en beklemtoning van 'n bepaalde ideologie (wat wêreldwyd getoets is en gedruip het) en daar word gekyk hoe die geld daarvoor aangewend kan word.
“ 'n Paar aspekte wat my ongemak toelig: Weet nie in hoe mate dit die staat se taak is om in die landbou-omgewing werksgeleenthede te skep nie. Weer eens dink ek die staat moet die omgewing skep waarbinne die private sektor sal belê, wat by werksgeleenthede sal uitkom. Die vraag word spesifiek gevra indien mens kyk na die suksessyfers van al hul projekte – wat is die finansiële insette en wat is die uitkoms daarvan in reële terme t.o.v. produksiesyfers en teen watter prys geproduseer. Hoe lank kan voortgegaan word om aan te hou om geld in hierdie (soms) bodemlose put te stort?
Bheki Cele se woorde
“Die uitsprake van (adjunk-minister) Bheki Cele in die debat oor transformasie beklemtoon my ongemak – spesifiek waar hy gesê het: ‘The strategy will unashamedly be biased in bringing more black small holder farmers as progressive beneficiaries of this programme. Honourable members, radical transformation will hit the spinal cord of the sector; we can rather deal with the casualties of the implementation process; than to be trapped in the paralysis of transformation that is by mouth and on paper with no tangible results’.”
“Die droogtehulp is gefokus op swart boere en is inderdaad 'n rassistiese benadering. Die staat se verantwoordelikheid oor rampe word nie na behore nagekom nie. Ek wonder wat is die private sektor en ook rolspelers in die waardeketting se bydrae om te help om die primêre sektor te stabiliseer in vergeleke met dit wat die staat gedoen het?
Van Zyl sê die staat sal nie maklik die droogte as 'n ramp verklaar nie. Dit gaan beteken dat hy dan middele na kommersiële boere sal moet kanaliseer en dit pas dit hom nie ideologies nie. Alle beskikbare hulp sal gegee word aan swart boere – ons moet darem onthou dit is verkiesingsjaar!
* Sal 'n mens dié begrotingsdebat weer bywoon? Nee wat! Die boodskap wat al verskeie kere uit landbougeledere gehoor is, is meer van toepassing: Boer voort, die staat gaan jou nie met droogtehulp help nie. Myns insiens het die staatsmasjinerie nie die vermoë om dit in elk geval te kan hanteer nie. Ditto die debat oor grond: Die regerende party is bekend daarvoor dat hy vlieërs die lug instuur, wat sekere boere briesend te maak, pleks van om op die boerdery te fokus. Die staat het waarskynlik ook nie die vermoë om die sogenaamde grondplafonne toe te pas nie. Hy kon nog nie eers 'n grond-oudit van die grond af kry nie.