Mnr. Glen Roberts, weerkundige by Enviromon, sê boere ondervind die afgelope agt jaar al 'n verskuiwing na reënval later in die jaar. Hy voorspel hulle sal in die toekoms korter winterreëntye so laat as Augustus en September ervaar.
"Ek is nie 'n doemprofeet nie. Ja, daar is klimaatverandering, maar ek wil nie daarop ingaan of dit mensgemaak is of nie."
Volgens Roberts word twee reënvalpieke verwag — een in April en Mei en 'n tweede rondom Augustus en September. Die maande tussenin sal droër wees.
Meer uiterstes, soos donderbuie pleks van sagte, deurdringende reën, groot temperatuurwisselinge, toename en hael- en windskade en sneeu wat vinnig smelt, word ook voorspel.
"Boere moet water spaar. Daar moet altyd genoeg water wees om twee jaar te kan oorleef," het hy gewaarsku.
Roberts het ook gemaan dat plase se retensievermoë verbeter moet word.
"Al kry boere dieselfde hoeveelheid water, is daar nie sneeu wat stadig smelt nie en minder water sal uiteindelik in die grond en boorgate beland."
Nóg 'n wenk is om uitheemse plantegroei, soos bloekombome, te vernietig, want dit gebruik te veel water.
"Besproei oordeelkundig. Data moet meer intyds beskikbaar wees. Gebruik daardie weerstasie op die plaas en meet gereeld jou grondvog. Vermy besproeiing op warm, winderige dae met 'n hoë verdampingstempo."
Landbouweekblad, 11 Mei 2007