
In ’n bitter taai markplek doen voertuigvervaardigers alles in hul vermoë om hul handelsmerk onder kliënte se aandag te bring en hulle só na vertoonokale te lok. En almal weet presies hóé straf die mededinging deesdae is.
Met ’n beperkte getal Kadjar XP Limited Edition sportnutsvoertuie (SNV’e) bied Renault nou ’n laat of ’n baie vroeë kersfees vir potensiële kopers, want nou is ’n stewige waardepakket by die prys ingesluit. Duidelik mik Renault op die meer avontuurlustige motoriste.
Die Limited Edition spog met baie netjiese 17 duim-allooiwielvellings, misligte wat die stuur se draaiaksie volg, ’n sleepstang, kanttrappe en dakrelings. Renault glo dat sy Kadjar drie voertuigsegmente baie suksesvol kombineer omdat dit tegelyk ’n bekwame SNV, ’n dinamiese luikrug en ’n veelsydige stasiewa is.
Renault het in 2016 drie Kadjar-modelle plaaslik bekendgestel wat almal deur ‘n nuwe geslag enjins met turbo-aanjaers aangedryf word: Die 1.6 dCi (diesel) 4X4 Dynamique lewer 96 kW wat dieselfde drywing is waaroor die Dynamique- en Expression-petrolmodelle beskik. Dan is daar ook die 1.5 cDi (diesel) wat met ’n turbo-aanjaer 81 kW drywing lewer. Die nuweling word aangedryf deur ’n 1.2 turbo-petrolenjin (96 kW) en ’n sesgang handratkas.
Maak ’n mens die somme, sê Renault, beteken die waardepakket eintlik ’n volle R40 000 in die koper se sak! Renault sê òòk die nuweling gebruik 5,7 liter brandstof per 100 km in ’n gekombineerde siklus met ’n CO² uitlaattelling van 127g/km.
Daar is ’n standaard vyf jaar of 150 000 km meganiese waarborg en ’n versieningsplan vir dieselfde tydperk asook ’n ses jaar waarborg teen roes. Die diensintervalle is 15 000 km en die aanbevole kleinhandelsprys is R364 900 (BTW ingesluit).