
Die kos wat ons lewe help onderhou, kan ook ongelukkig ook soms dodelik siek maak.
'n Verpakkingsmaatskappy in Kalifornië, Wawona Packing Co., het volgens 'n berig in Huffington Post op 19 Julie besluit om vrywillig sekere vrugte terug te roep weens moontlike listeria-besmetting. Die vrugte is tussen 1 Junie en 12 Julie verskeep. Hoewel geen siektes nog aangemeld is nie, het hulle besluit om eerder voorkomend op te tree in belang van openbare gesondheid.
Volgens National Geographic kan voedselbesmetting op enige stadium van die plaas tot op die tafel plaasvind. Die meeste gevalle van voedselvergiftiging word nie aangemeld nie, maar 'n uitbreking van Escherichia coli (E. coli) in 2011 in Duitsland het nagenoeg 4 000 mense siek gemaak en tot die dood van 53 gelei. Dié gesondheidskrisis het byna twee maande lank geduur en in Junie daardie jaar het owerhede vasgestel dat spruite op 'n plaas in die noorde van Duitsland tot die uitbreking gelei het. Die saad was heel moontlik besmet voordat dit ingevoer is.
Wat die landbou betref, kan besmette water, saad, toerusting, werkers en diere voedsel help besmet. In die verwerkingsproses kan onvoldoende beheermaatreëls onhigiëniese toestande skep waar patogene begin groei. Wat die vervoerproses betref, kan voedsel wat nie by die korrekte temperature gestoor word nie, bederf en onveilig raak om te eet. By die verkooppunte kan warm temperature en swak higiëne in winkels bakterieë laat toeneem. En die verbruiker kan self aandadig wees: Kombuise wat nie skoon is nie en kos wat nie behoorlik gaargemaak is nie, kan verder die risiko van siektes verhoog.
National Geographic berig dat een uit elke ses Amerikaners jaarliks siek raak van voedselvergiftiging. Verbeterings in internasionale kontrole het tot groter openbare bewustheid gelei, maar die snelle globalisering van die voedselproduksieproses verhoog ook verbruikers se kwesbaarheid, omdat dit moeiliker is om voedsel te reguleer en na te spoor.