
KWV het die wêreld se heel eerste “natuurlike” wyn– dit wil sê sonder bygevoegde sulfiete of preserveermiddels – bekend gestel.
Die wynmaker gebruik gevorderde tegnologie, wat rooibos- en heuningboshout tydens verskeie stappe van die wynmaakproses, insluit. Dié inheemse plante se hoë vlakke van anti-oksidante en lae tanniene, beskerm die wyn, wat Earth’s Essence genoem word.
Volgens die wynmaker, mnr. Louwritz Louw, is hierdie ’n goeie voorbeeld van innoverende wynbereiding in ’n moderne era. Hy het dit as “heeltemal nuut en opwindend” beskryf.
“Deur rooibos- en heuningboshout in die wynbereidingsproses te gebruik, beskerm hul kragtige anti-oksidante die wyn op ’n natuurlike manier. Dit is ’n groot voordeel vir mense wat aan swael-intoleransie ly.”
Volgens me. Tania Theron-Joubert, internasionale handelsmerkbestuurder vir KWV, is daar ’n internasionale neiging dat verbruikers produkte soek wat meer natuuurlik is, met minder preserveermiddels.
Louwritz meen Earth’s Essence ontsluit ’n hele nuwe wêreld van wyn. Die natuurlike smaak daarvan word nou deur ’n wêreldklas wynbereidingsproses ontgin.
Rooibos kom natuurlik voor in die Cederberg-gebied en heuningbos word net in die kus- en bergagtige areas van die Wes- en Oos-Kaap gevind.
Volgens Louwritz is Earth’s Essence ’n onkonvensionele, superpremium natuurlike wyn van hoë gehalte wat deur die natuur bewaar word. Die druiwe kom uit Malmesbury in die Swartland.
“Ons gebruik net die gesondste druiwe om seker te maak die wyn word regdeur die wynbereidingsproses beskerm,” sê hy.
Die gistingsproses, saam met rooibos- en heuningboshout, vind op die doppe plaas. Die wyn word dan van die doppe onttrek en vroeër as gewoonlik gepars sodat harde tanniene nie onttrek word nie. Die wyn word ook verouder saam met rooibos- en heuningboshout sodat dit swaelvry bly.
Hy sê die wyn het ’n kenmerkende aroma en struktuur – met nuanses van rooibos en heuningbos. Die wyn kos R89 per bottel en is by Makro en Checkers beskikbaar.