
Mnr. Ernst Janovsky, hoof van Absa AgriBesigheid, sê goeie tydsberekening in die bemarking van rooivleis is van uiterste belang indien produsente baat wil vind by die sokkerstormloop wat die land aanstaande jaar gaan tref.
Janovsky het op die vergadering van die Moerkwekersforum in Bloemfontein gesê die landbou sal na verwagting in 2010 die grootste voordeel uit die verskaffing van proteïen en beesvleisproduksie trek. Hy sê biefstuk sal koning kraai, aangesien dit die voorkeurgereg in restaurante is.
Daar word nou ’n nuwe pryshoogtepunt in Mei tydens die duur van die sokker-wêreldbeker verwag.Die verwagting is dat die prys daarna effens sywaarts sal beweeg, teenoor die normale prysafplatting wat in Februarie en Maart plaasvind.
22 September 2009