
Die Tip of Africa-uithourit wat hierdie naweek op Bredasdorp begin, het reeds sy inskrywingstal van 2013 oortref. “Dit is uitstekende nuus nadat ander nasionale uithouritte weens die ekonomie 'n daling in deelnemers bevestig het,” sê projekleier Esther Möller van die Agri Mega Groep.
Daar word oor 160 km, 120 km, 80 km en 40 km deelgeneem. Möller het bevestig dat laat inskrywings aanvaar word. Dagruiters (40 km, 80 km en 120 km) kan nog by die beginpunt by Mega Park kom inskryf.
Vir perdesport en veral uithourit-geesdriftiges is dit uitstekend dat die volledige SA Wêreldkampioenskap-span met reserwes in aksie sal wees. Hulle vertrek binnekort na die World Equestrian Games (Perdesport-olimpiade) in Frankryk. Die spele vind net elke vier jaar plaas.
Die span is: Naomi Müller van die Overberg, Ronel Burger en Gillese de Villiers met reserwes Peter Chantler uit die Oos-Kaap en Eone Willemse uit die Vrystaat.
Die mededingende Abdullah Al van die Verenigde Emirate het pas ingeskryf vir die uitmerglende 160 km. Hier gaan hy op sy perd, Leyhla Jericho, te staan kom teen verskeie Sprinbok-ruiters, wat Naomi Müller op Shabach Kemal insluit. Daar is ook reeds inskrywings vanaf die Verenigde Koninkryk en Namibië.
Vir die 80 km het reeds talle ruiters, van sover as Gauteng en Limpopo, ingeskryf.
Toegang vir die hele dag is gratis. Aanlyn-inskrywings: www.xrc.co.za, vir ruiternavrae, kontak Noami Müller by 082 783 1802 of noami@shabachstud.co.za