
Meer as 120 karkasse is reeds vir die kompetisie, wat vir die tweede jaar deur Landbouweekblad geborg word, ingeskryf en mnr. Terry Strachan, die hoof uitvoerende beampte van die Royal Landbougenootskap van Natal, slyp al sy tande vir die rekord-breek geleentheid.
In 2014 het die Royal-skou die eerste karkas-kompetisie aangebied waar bees-, lam- en vark-karkasse deelgeneem het. “Die Royal se karkas-kompetisie hou dus nou die nasionale rekord vir die hoogste prys per kilogram vir al drie spesies. In 2014 was die wen vark-karkas, wat volgens die SA Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) se standaarde beoordeel is, vir R78/kg opgeveil.
In 2013 is die rekordprys van R110/kg vir ’n bees-karkas by hierdie kompetisie behaal en in 2007 is die bykans onoorkombare prys van R3 000/kg vir ’n lam-karkas betaal. Dit is onwaarskynlik dat dié prys vanjaar geklop word, maar by die Royal se karkas-kompetisie, wat elke jaar geesdriftige kopers lok, is enigiets moontlik,” spog Strachan.
Die diere word eers op die hoef beoordeel en dan na die slagplaas geneem. Daar word die diere geslag en die karkasse word dan beoordeel. ’n Gesamentlike punt word vir al die deelnemers bereken en die wenner sal op Woensdag, 3 Junie, aangewys word.
Die Royal is ook die enigste skou waar ’n parallelle kompetisie vir karkasse van die Europese skaaprasse aangebied word. Die karkasse word op presies dieselfde kriteria, soos deur Samic bepaal, as die algehele wenner beoordeel.
“Die Samic-standaarde bevoordeel egter die inheemse rasse in ’n mate en dit het tot gevolg dat die boere wat met Europese rasse boer, nie altyd aan karkaskompetisie deelneem nie. Die Europese rasse presteer gewoonlik swakker as die inheemse rasse weens die hoër vetoplaag. “Na my mening kan dit egter sinvol wees om die Samic-standaarde van tyd tot tyd te hersien, veral nou dat daar ’n toenemende gunstige aansien van vet in die publiek pos vat,” verduidelik Strachen.
’n Bykomende kompetisie by vanjaar se Royal-skou is die speenkalf-kompetisie. “Om die komersiële boer by die skou te betrek het ons besluit om aan hulle die geleentheid te bied om te sien wie in KwaZulu-Natal die beste speenkalf kan oplewer. Kalwers tussen 190 kg en 260 kg sal op gewig, bou, voorkoms en hul vermoë om gewig aan te sit, beoordeel word. Ons is opgewonde dat dié kompetisie in ’n groot trekpleister sal ontaard,” verduidelik Strachan.