
Runderpes is een van die gevaarlikste en oudste dieresiektes ter wêreld en het oor meer as ’n duisend jaar hoefdiere regoor die planeet laat vrek en hul eienaars honger gelaat.
Die Verenigde Nasies (VN) se Organisasie vir Voedsel en Landbou (FAO) meen sy globale veldtog om dié siekte uit te wis, is geslaag en dat runderpes binnekort uitgewis sal wees vanweë internasionale pogings om die virus wat dit veroorsaak te isoleer en te vernietig.
Indien Runderpes as uitgewis verklaar word, sal dit die eerste dieresiekte wees wat deur die mens oorwin is. Die enigste ander siekte wat uitgewis is, is pokke, wat in 1980 aldus verklaar is. Runderpes hou nie gevaar vir die mens in nie, maar bykans alle diere wat daarmee besmet word, vrek, luidens ’n berig van Scientific American.
Die FAO het in die 1980’s ’n reeks vergaderings tussen dieregesondheidsorganisasies gereël om te bepaal hoe die siekte eens en vir altyd uitgewis kan word. “Die antwoord wat uit dié samesprekings gespruit het, was ’n oorkoepelende program op ’n hoë vlak wat optrede op nasionale en omgewingsvlak saamweef om ’n wêreldwye veldtog teen die siekte te bewerkstellig.”
Die Wêreldwye Runderpes-uitwissings-program is in 1994 geloods en het eers die geografiese verspreiding van die siekte bepaal om die betrokke virus beter te verstaan. Daarna is die siekte op ’n plaaslike vlak in besmette gebiede bestry. Die FAO het ook hand bygesit om lande te help om die siekte uit te hou.
Volgens die FAO het runderpes stadig, maar seker sy vashou verloor, luidens ’n berig op National Geographic.com. In die afgelope 15 jaar is 170 lande en gebiede as vry van runderpes verklaar deur die wêreldorganisasie vir dieregesondheid. Die laaste groot uitbreking van dié siekte het in 2001 in Kenia voorgekom en selfs sy laaste vashouplek in Somalië, Etiopië en Kenia blyk vry van runderpes te wees, sê die FAO.
Runderpes deur die eeue
Die FAO bied die volgende opsomming van Runderpes oor die eeue in ’n blog op National Geographic.com:
• In 376 VC tot 386 VC kom runderpes die Romeinse Ryk saam met aanvallende stamme van Asië binne en dit kon tot die val van dié ryk gely het.
• ’n Uitbreking in Frankryk in die 1700’s veroorsaak hongersnood en vind sy klimaks in die 1789-revolusie.
• Die siekte het aan die einde van die 19de eeu vir die eerste keer in Afrika suid van die Sahara voorgekom en het tussen 80 % en 90 % van alle beeste in die omgewing uitgewis.
• Runderpes het sy hoogtepunt in die 1920’s bereik en het in dié tydperk van Skandinawië tot die Kaap van Goeie Hoop en van die Atlantiese kus van Afrika tot die Filippynse eilande voorgekom, met uitbrekings in Brasilië en Australië.
• In die vroeë 1980’s het uitbrekings in Suid-Asië, die Midde-Ooste en Afrika verwoesting gesaai.
Bron:
1 Desember 2009