
Die Friesperdstoetery Doorndraai, ’n lid van die Friesperd Stamboek van Suider-Afrika (FPSSA) wat geaffilieer is by die Koninklike Het Friesch Paarden Stamboek (KFPS), het vandeesmaand die eerste stoetery buite Nederland geword wat as Teler van die Jaar aangewys is.Die stoetery behoort aan me. Marlise en mnr. Danie Botes van Zwavelpoort naby Pretoria. Dit is een van die grootste Friesperdstoeterye ter wêreld met meer as honderd perde.
Marlise Botes is in Leeuwarden, Nederland, tydens die onlangse hingstekeuring onder die vaandel van die KFPS aangewys as die beste teler vir 2014 op grond van resultate gedurende twee keurings in Februarie en Oktober in Suid-Afrika. Die KFPS het lede in meer as 50 lande met 70 000 geregistreerde perde wêreldwyd.
Volgens Botes is eenvormigheid, beweging, ontwikkeling en rasegtheid die riglyne wat gebruik word om die gehalte van jong en ouer perde te bepaal. Op grond van daardie resultate word punte toegeken wat die wenner bepaal. In 2012 was Doorndraai derde en in 2013 tweede in die kompetisie.
“Die stap na nommer een verlede jaar is ’n groot tree vorentoe vir die Suid-Afrikaanse Friesperdbedryf. Dit wys Suid-Afrikaanse Friesperde kan meeding met die beste ter wêreld. Enige Friesperdeienaar kan opgewonde wees oor die toekoms van dié spesiale ras met die resultate wat Doorndraai op die mededingende internasionale vlak behaal,” sê sy.