"As ons nie sterk handelsmerke vestig en ontwikkel nie, sal ons wynbedryf nie oorleef nie. In die volgende twee jaar gaan oorlewing wins wees," het me. Su Birch, hoof uitvoerende beampte van Wosa (Wines of South Africa) op VinPro se wynbedryfsinligtingsdag op Goudini gesê.
"Suid-Afrika is 'n klein, maar suksesvolle deelnemer aan internasionale wynbemarking. Daar is geen twyfel oor ons potensiaal om ons mark te vergroot nie, maar dit sal tot ons grootste voordeel wees om ons beeld as 'n verskaffer van premie-wyn uit te bou."
Een van die motiverings daarvoor is dat Suid-Afrika nie juis wyn teen 'n lae koste produseer nie. Boonop het dit wyn van die regte gehalte om in die premiesektor mee te ding. In Brittanje — waar die meeste van Suid-Afrika se wyn (826 miljoen liter) verkoop word — is die prysvlakke van £5 tot £10 waar verkope en inkomste die grootste groei toon.
Birch sê daar's rede om te glo dat die hoeveelheid Suid-Afrikaanse wyn wat vanjaar na Amerika uitgevoer word, behoort te verdubbel. Wat tot die groter vraag na SA wyn sal bydra, is Cape Wine 2006, die tweejaarlikse vertoongeleentheid van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, die groter beskikbaarheid van Suid-Afrikaanse wyn in Amerika, verskerpte bemarkingspogings in die land en die toenemende bewuswording en aanvaarbaarheid van Suid-Afrikaanse wyn daar.
Sy waarsku egter dat daar van die begin af net goeie wyn uitgevoer moet word. "Ons moet alles in ons vermoë doen om nie in die 'Chileense strik' te trap en bekend te word as 'n betroubare bron van goedkoop, alledaagse wyn nie. Ons moet begin waar ons uiteindelik wil eindig, naamlik as 'n verskaffer van uitmuntende wyn."
3 Februarie 2006