
Die beste wyne van die 2009-oesjaar sal mekaar die stryd aansê op vanjaar se SA Jongwynskou waar die spreekwoordelike koring van die kaf geskei en die land se top jongwyne aangewys word.
Inskrywings vir die kompetisie sluit op 24 Junie by die onderskeie streekswynskouverenigings en op 13 Julie by die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANW) - moet dus nie uitstel nie! Jongwyne ding mee in 17 klasse.
Die kategorieë vir witwyn sluit in Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Sémillon, Ander Wit Kultivars, Droë Wit Versnitte, Effe Droë Witwyne en Edellaatoes. In die kategorieë vir rooiwyne word trofeë toegeken vir die beste Pinotage, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Merlot, Ander Rooi Kultivars en Droë Rooi Versnitte. Ook die seisoen se voorste Port, Dessertwyn en Muskadel staan in lyn om geproe en waardig bevind te word vir die eretitel as 2009 se beste.
Een van die hoogste eerbewyse wat 'n wyn kan ontvang, is sekerlik die genl. Smuts-trofee wat toegeken word aan die algehele kampioen jongwyn vir 2009. Voorts word die Pietman Hugo-trofee deur die bedryf beskou as die mees konsekwente aanwyser van veelsydige vaardighede - hierdie gesogte prys gaan aan die wynmakery met die hoogste puntetotaal vir vyf verskillende wyne.
'n Gedugte span gekwalifiseerde wynbeoordelaars sal in spesialis-panele die onderskeie wyne vanaf 27 tot 31 Julie by die Nederburg-veilingkompleks op die proef stel. Die wenwyne word op 20 Augustus tydens 'n toekenningsmiddagete, aangebied deur die Worcester- en Breedekloof-wynstreke, by Goudini Spa bekend gemaak.
Die SA Jongwynskou-katalogus en inskrywingsvorm is beskikbaar by www.youngwineshow.co.za of by die SA Nasionale Wynskouvereniging se kantoor. Kontak Elsabé Ferreira vir meer inligting by tel (021) 807 3104, faks (021) 863 2079 of per e-pos na patricia@veritas.co.za.
11 Junie 2009