Planne word op verskeie terreine beraam om die uitbreking van die lewensgevaarlike Asiatiese voëlgriepvirus H5N1 in Suid-Afrika te voorkom. Dit sluit in invoerbeperkings en kwarantynmaatreëls op lewende voëls asook waarnemingsprogramme om die voorkoms van die virus so gou moontlik op te spoor. Voëljagters word ook nou betrek.
Voëljagters gaan met wetenskaplikes van die Onderstepoort-instituut vir Veeartsenykunde saamspan om met 'n vroeë waarskuwingsprogram vir die opspoor van die H5N1-voëlgriepvirus onder wilde voëls in Suid-Afrika te begin.
Die SA Vlugskietvereniging ("Wingshooters") sê dié program behels 'n landwye netwerk van vlugskuts wat as vrywillige veldbeamptes sal optree om voorbeelde van jagvoëls, veral watervoëls, vir virologiese diagnose te versamel. Dr. Raoul van der Westhuizen, uitvoerende voorsitter van die vereniging, sê voëlgriep word wêreldwyd deur migrerende wilde watervoëls versprei. Hoe vroeër die voorkoms van die gevaarlike Asiatiese griepstam aangemeld word, hoe gouer kan geskikte bekampingsmaatreëls ingestel word.
Die huidige vorm van H5N1 is een van minstens 144 voëlgriepsoorte wêreldwyd en het sedert 2003 al die dood van minstens 100 mense veroorsaak. Hulle was bykans almal in regstreekse kontak met besmette pluimvee.
Wetenskaplikes is dit eens dat die siekte oorspronklik van plase en markte in Suid-Asië af kom. Dáár het pluimvee dit oorgedra na trekvoëls en die virus het versprei.
Die virus het in Februarie vanjaar Afrika bereik toe dit in Nigerië opgemerk is. Dit het sedertdien na Niger en Kameroen versprei. Wetenskaplikes meen die virus kan maklik in Afrika muteer en versprei. Die meeste Afrika-lande is swak toegerus om die siekte te bestry.
Die bedreiging is beperk tot kontak tussen plaaslike jagvoëls en moontlik besmette wilde voëls, soos strandlopers, snippe en sterretjies, wat elke jaar van Europa en Skandinawië af, en selfs die Kaspiese See en Siberië, na Suider-Afrika migreer.
Van der Westhuizen sê voëljagters wat dikwels wildeganse en -eende jag en wat dus eerste in die natuur met migrerende wilde voëls meng, kan die voorkoms van die voëlgriepvirus waarskynlik eerste waarneem. "Verskeie van ons lede het vrywillig aangebied om as veldbeamptes op te tree. Hulle sal spesiale opleiding ontvang oor die veilige versameling van virologiese monsters asook die verpakking en die versending daarvan met die samewerking van 'n aangewese versendingsmaatskappy.
"Die waarskuwingsprogram is belangrik om data so vroeg moontlik in Suid-Afrika te versamel en sodoende te help om die blootstelling van die algemene publiek se gesondheid so ver moontlik te beperk."
Dr. Grietjie de Klerk, hoofstaatsveearts in epidemiologie by die nasionale Departement van Landbou, sê daar is 'n omvattende gebeurlikheidsplan gereed wat voortdurend aangepas word. Dit behels maatreëls om te voorkom dat besmette voëls of pluimvee ingevoer word, maat-reëls om skade te beperk as die siekte wél uitbreek en die voortdurende waarneming van hoenders en volstruise asook migrerende voëls, om tekens van die siekte so vroeg moontlik op te spoor.
Dié opnames word landwyd gedoen sedert 'n ander griepvirus, H5N2, in 2004 volstruise in die Oos- en Wes-Kaap besmet het. Suid-Afrika is in September 2005 weer as vry van voëlgriep verklaar Die maatreëls is ingestel om die virus vinnig op te spoor as dit die land sou inkom. "Ek glo ons is in 'n goeie posisie om gou bewus te word van die virus as dit die land sou inkom.
"Indien iemand op 'n plek sou afkom waar 'n klomp dooie voëls is, word hy gevra om die naaste staatsveearts te bel. Dit beteken nie 'n dooie duif in die tuin hou 'n bedreiging in nie, maar as daar 'n onnatuurlike vrekte onder groepe voëls in 'n gebied is, behoort toetse gedoen te word."
Luidens 'n inligtingstuk van die SA Vlugskuts kom voëlgriep al meer as 100 jaar lank wêreldwyd voor. Bykans alle voëls kan die een of ander vorm van voëlgriep, waarvan daar sowat 15 subtipes en baie meer stamme is, opdoen.
Soms vestig 'n stam, soos H7N3 byvoorbeeld gedoen het, hom deur middel van "kruipmutasie"in pluimvee waar dit 'n kragtige siekteverwekker word en miljoene pluimvee kan laat vrek. Die voël-griep wat onlangs volstruise in die Wes-Kaap besmet het, was van die H5N2-subtipe wat só 'n kruipmutasie ondergaan het.
Wanneer 'n wilde voëlgriepvirus pluimvee deur kruipmutasie besmet, kan dit deur verdere kruipmutasie ook die mense besmet wat met siek voëls werk. Die oordrag van voëlgriep regstreeks van wilde voëls na mense het egter nog nie voorgekom nie. Net mense wat noue kontak met siek pluimvee gehad het, het by geleentheid die siekte opgedoen. Dit is geensins nodig om groot hoeveelhede wilde voëls te vernietig nie. Monsters word net as voorsorgmaat-reëls geneem. Aangesien dit mismonsters is, word die voëls nie beseer nie.
Kruipmutasie vind gereeld en geredelik onder griepvirusse plaas. Dit behels dikwels klein veranderings van die genetiese materiaal van die virus. Dié klein veranderings is die rede hoekom 'n menslike griep-entstof wat aan die begin van die griepseisoen vervaardig is, teen die einde van die griepseisoen nie meer doeltreffend is nie. Die rede hiervoor is dat die virus deur kruipmutasie sy "voorkoms"verander het en nie meer deur die teenliggampies herken word nie.
Voëlgriep is dus nie 'n ernstige bedreiging vir die algemene publiek nie, tensy iets gebeur wat nog net drie keer die afgelope 100 jaar gebeur het. Dit het drie keer in die vorige eeu gebeur dat genetiese materiaal van een soort griepvirus (byvoorbeeld voëlgriep) saamgevoeg is met genetiese materiaal van 'n ander griepvirus (soos mensgriep) - genoem sprongmutasie - om 'n nuwe virusstam te skep wat regstreeks van mens na mens oorgedra kon word. Die gevolg is 'n pandemie, soos die Spaanse griep van 1918, wat uit die voëlgriepstam H1N1 ontstaan het en waarin sowat 50 miljoen mense gesterf het.
Wetenskaplikes meen dit is moontlik dat H5N1 wél so 'n sprongmutasie kan ondergaan, veral as in ag geneem word dat daar 5 miljard stuks pluimvee in China is, met 'n gemiddelde van 15 voëls per eienaar.
7 April 2006