
Suid-Afrika se somergraanboere wil in die komende seisoen hul aanplantings van wit mielies, sojabone en grondbone aansienlik uitbrei, toon die jongste ramings van die Oesskattingskomitee. Dit is ondanks waarskuwings teen oorproduksie en ’n verwagte El Niño-weerverskynsel.
Veral die komitee se raming dat boere in die komende seisoen meer as 10 % meer wit mielies wil plant, het die mark onkant betrap. Safex se kontrakprys vir lewering in Julie volgende jaar het binne twee dae met sowat R100 per ton geval.
Die plantvoorneme toon ’n algemene verskuiwing weg van sonneblomme af in die rigting van mielies. Boere het in die peiling teen middel Oktober aangedui dat hulle sowat 29% minder sonneblomsaad as die afgelope seisoen wil plant.
Daarteenoor wil hulle in die komende seisoen sowat 10% meer wit mielies plant, 1% minder geel mielies, 14% meer sojabone, 16% meer grondbone, 18% minder sorghum en 0,5% meer droëbone. Dié voorneme wyk ver af van Graan SA se produksieruimteaanbevelings.
2 November 2009