Sanlam se Agri-Vie-fonds stel sy visier op belegginsgeleenthede in agribesighede suid van die Sahara.
Die private aandeelfonds van R700 miljoen word saam met die belegginsgroep Strategy Partners bestuur en het reeds R330 miljoen van institusionele beleggers, soos die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en die IDC, voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, gekry.
Die fonds sal tot Mei 2009 "oop" wees vir beleggers. Die Agri-Vie-fonds verskil van PSG se Zeder deurdat dit nie aandele in agribesighede, soos KWV Beperk of Capespan, najaag nie, maar hom eerder op entrepreneurs in die agriwaardeketting wil toespits. Dit beteken dat die fonds in die verwerking en bemarking van landbouprodukte sal belê.
Agri-Vie sal ook na lande buite Suid-Afrika kyk. Mnr. Pieter Kriel van Sanlam meen dat agribesighede die steunpilaar van die meeste lande suid van die Sahara se ekonomieë vorm. "Die resultaat hiervan is dat dié lande besondere geleenthede vir beleggers bied."
Mnr. Herman Marais van Strategy Partners staan aan die hoof van die fonds. Uitvoerende beamptes van Sanlam Private-ekwiteit en die landboumaatskappy Makotulo, wat deur vroue gelei word, maak deel van die bestuursraad uit.
Marais sê die fonds kan die potensiaal ontgin wat deur beperkte kennis, 'n tekort aan kapitaal en beperkings in infrastruktuur teruggehou word. Hy meen die fonds het 'n nis in Afrika gevind en ervaar reeds gesonde transaksievloei.
Bron:
30 Oktober 2008