Sasol se biodieselprojek sal waarskynlik teen die middel van vanjaar beslag kry afhangende van hóé die Regering uiteindelik die biodieselstrategie hanteer.
Mnr. Adam Mostert, bestuurder van biodiesel by Sasol Nitro, het tydens die biobrandstof-konferensie in Johannesburg gesê Suid-Afrika se voorgenome biobrandstofbedryf is nie 'n brandstofprojek nie, maar 'n landbouprojek.
Sasol gaan sy nuwe onderneming saam met die Sentrale Energiefonds en Siyanda Oil Holdings, 'n swart ekonomiese bemagtigingsvennoot, vestig.
Die nuwe biodieselmaatskappy, wat beoog om hoofsaaklik sojabone as grondstof te gebruik, gaan buite-organisasies aanstel om die praktiese ontwikkelingswerk op plaasvlak te doen. Hierdie bestuursorganisasie(s) sal produsente bystaan en produksiekontrakte met hulle sluit.
Die plaaslike produksie van sojabone het vanaf 60 000 ton in 1994/'95 toegeneem tot 424 000 ton verlede jaar. Produsente het ook groot vordering gemaak van die gemiddelde opbrengs van 0,9 ton/ha in 1994/'95 tot 1,7 ton/ha in 2006.
"In Duitsland is die subsidie op biodiesel sowat R4 per liter teenoor die plaaslike voorgestelde 40 sent per liter," het Mostert gesê.
Landbouweekblad, 9 Maart 2007