Die Mededingingstribunaal het dit pas bekragtig:
Hierdie R 250,68 miljoen boete is gelykstaande aan 8% van Sasol Nitro se jaarlikse omset. Die Mededingingskommissie en Sasol het aanvanklik ooreengekom dat 'n R188 miljoen boete, 6% van Sasol Nitro se omset, in orde is. Nuwe inligting het die Kommissie egter op die laaste nippertjie van plan laat verander.
Die petroleumreus is tydens die verhoor deur mnr. Dave Lewis, voorsitter van die Tribunaal, as 'n "reeks-oortreder" bestempel.
Kunsmis maak tans sowat 45% van graanboere se insetkoste uit, het mnr. Nico Hawkins, bestuurder van bedryfsbediening by Graan SA, tydens die verhoor gesê.
"Volgens Graan SA se syfers het graan- en oliesaadprodusente in die 2004/2005-produksieseisoen R3,4 miljard aan kunsmis bestee. As onmededingende praktyke 'n 5% verhoging in kunsmispryse tot gevolg gehad het, sou dit R170 miljoen tot die koste van daardie seisoen bygedra het."
Hawkins het verder gesê dat hierdie koste deur sou spoel en voedselpryse sou verhoog het. Dit sou gevolglik bygedra het tot voedsel-onsekerheid.
Graan SA moniteer kunsmispryse reeds sedert 1991.
Tydens die verhoor het mnr. Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van die TLU SA, gesê dat die staat uiteindelik die voordeel van hierdie boete sal trek, aangesien boetes aan die Regering betaalbaar is. "Diegene wat aanvanklik deur die aanvanklike boete benadeel is, word op geen manier hiervoor vergoed nie."
Lewis het gesê dat Van Zyl en Hawkins 'n goeie punt maak en het voorgestel dat hulle aktief moet optree om te verseker dat die boerderygemeenskap vergoed word vir die onreg wat hulle aangedoen is.
Lees hoe hulle dit kan regkry in Landbouweekblad se uitgawe van 28 Mei.
20 Mei 2009