Wynmakers moet hulle hierdie seisoen voorberei om aansienlik minder Sauvignon blanc te pars, het mnr. Charles Hopkins van Graham Beck Wyn op die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging se jaarlikse voorparsseminaar op Elsenburg gesê.
"Daar is ontsettend min Sauvignon blanc. Noudat dit so skaars is, wil almal dit hê. Dit is Suid-Afrika se wit goud. Wie het nou ooit gedink ons sal tot R6 500 per ton vir Sauvignon blanc uit 'n koel gebied betaal?"
Op die seminaar het Hopkins aan wynmakers en wingerdboukundiges voorgestel om te probeer om 'n bietjie later te pars en net voor parstyd ontledings vir hoë kaliumvlakke te laat doen.
Hy sê die rooi wyndruiwe-oes gaan ook groter wees en as hy na die onlangse aanplantings kyk, gaan die verhouding tussen rooi en wit druiwe — wat in 1990 nog 80:20 was — binnekort gelyk wees.
Volgens Hopkins is die wynbedryf se sewe vet jare verby en lê die sewe maer jare voor. Hy voorspel dat daar die volgende paar jaar druiwe gaan bly hang "wat nie baas het nie". Hy het wynmakers aangemoedig om hul rug op die eksterne probleme in die wynbedryf te draai en na die basiese beginsels terug te keer. "Gaan wingerd toe. Maak weer vriende met die wingerdboukundige en die mense wat jou ontledings doen. Skerp higiëne in die kelder op."
28 Januarie 2005