
As jy ’n sukses wil maak in vandag se mark, moet jy jou mark ken en jou wyn reg posisioneer. Dit was die raad van mnr. Peter McAtamney, hoof van die konsultasie-onderneming Wine Business Solutions, by ’n VinPro-kelderkonferensie wat by Rawsonville gehou is.
Hy het daarop gewys dat daar op die oomblik drie groot neigings is wat besig is om plaas te vind. Eerstens is ons besig ons besig om weg te beweeg vanaf ’n aspirerende mark, waar die beeld en leefstyl wat met ’n spesifieke wyn geassosieer word die grootste impak op verkope het, na ’n siklus sedert 2010, waar die oorsprong van wyn die grootste impak daarop het. Frankryk het byvoorbeeld die sterkste handelsmerk vir wyn en kos en maak tans meer geld uit wynverkope as enige van die ander lande.
Dit beteken nie dat ander lande Frankryk moet naboots nie, maar eerder dat al die soort ondernemings in ’n land – van grootmaat tot versamelwyn – moet saamwerk om ’n sterk en unieke handelsmerk vir daardie land te skep. Dit maak nie saak dat wingerde verskillend gehanteer word, dat wyn op verskillende manier gemaak word of dat die ondernemings op verskillende verbruikers wat verskillende drinkervarings soek, fokus nie, het hy gesê.
Tweedens is die mark vir duurder wyne besig om vinniger te groei as die mark vir goedkoop wyn. In die internasionale mark het wyn wat vir bo 10 Amerikaanse dollar verkoop word, sedert 2007 na 2011 met bykans 13% gegroei, terwyl die mark vir wyn tussen 5 en 10 dollar met sowat 7% gegroei het en die mark vir wyn onder 5 dollar met net 0,44%.
“In Amerika byvoorbeeld, verteenwoordig wyn wat vir meer as 30 dollar verkoop word sowat 75% van Amerika se totale verkope. Die wyn word vir gemiddeld so R400 ’n bottel verkoop,” het hy vertel. Volgens Vinexpo behoort die mark vir wyn bo 10 dollar by 2016 met nog so 30% te groei, die vir wyn tussen 5 en 10 dollar met sowat 10% en die vir wyn onder 10 dollar vir net 3%.
Hy het voorspel dat dit moeiliker vir kleiner ondernemings gaan word om in die grootmaat- en handelsmerk-mark te oorleef, aangesien supermarkte in beheer is van sowat 70% van die mark en ook as gevolg van stygende produksie en verskepingskostes. Verder raai hy alle wynondernemings aan om innoverende verpakkings te kry om hulle wyn te laat uitstaan bo die van hulle mededingers. “Dink nuut en kreatief. Gaan kyk bietjie hoe tee deesdae bemark word – dit is baie meer skeppend as wat ons tans in die wynbedryf doen.”