
Kundiges van Australië en Suid-Afrika gaan die derde jaarlikse konferensie van Bewaringslandbou Wes-Kaap (BLWK) op Elsenburg toespreek.
Mnr. Tom Robinson, 'n graanboer van Suid-Australië, mnr. Greg Butler, bestuurder van die Suid-Australiese boerevereniging vir geenbewerking (SANTFA), en prof. Karin Jacobs van die departement mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch is genooi om boere toe te spreek by die konferensie wat van 7 tot 11 September gehou word.
Robinson boer naby die dorpie Hoyleton in die staat Suid-Australië met koring en kanola op 'n verskeidenheid grondtipes. Sy jaarlikse reënval is 325 tot 450 mm. Hy is toegewy aan bewaringsboerdery en vogbewaring en pas al vir 14 jaar geenbewerking toe met 'n John Deere 1890 enkelskyfplanter. Hy gebruik 'n Shelbourne-afstropertafel op sy stroper om te verseker dat alle oesreste bly staan om sodoende verdamping en erosie te verminder. Hy het ook vogtoetspenne geïnstalleer om vog in die grond te moniteer sodat hy beter besluite kan neem oor bemesting en voorspellings oor opbrengs kan maak.
SANTFA se werk is om boere te help om produktiwiteit te verbeter deur die ontwikkeling en ontplooiing van uitstaande boerderytegnologie. Dit is een van die grootste grondbestuursorganisasies in Australië wat nie op winsbejag gemik is nie.
Butler se rol by SANTFA is om te sorg dat die organisasie " 'n paar jaar voorbly" en volhoubare tegnologie en bestuurstrategieë wat insetkoste verlaag, te ondersoek.
Hy was aan die voorpunt van die grootskaalse aanvaarding van tegnologie om grondvog te moniteer, en het onlangs gedemonstreer hoe op bemestingstowwe gespaar kan word as bio-koolstof teen lae toedienings gebandplaas word. Verder is Butler besig om die Aqua-Till vloeistofkouter te ontwikkel. Aqua-Till is 'n apparaat wat ultrahoëdruk waterstroomsnyers as 'n vloeibare kouter gebruik om te saai.
Jacobs is 'n mikoloog (swamkenner) wat spesialiseer in die taksonomie (klassifikasie) van ascomycetesswamme en hul rol in die omgewing. Hoewel swamme baie belangrik is in die herbenutting van koolstof, stikstof en fosfor in die omgewing is, is min bekend oor die spesies wat in die grond is of hul verhouding met plante. Jacobs se navorsingsgroep ondersoek die biodiversiteit en verspreiding van grondmikrobes teen verskillende hellings in droë streke, en doen navorsing oor hoe mikrobepopulasies op veranderinge in die omgewing reageer en hoe hulle verband hou met plante. -
Navrae: Dr. Johann Strauss, tel. 021 808 5479 of e-pos: johannst@elsenburg.com