
Dis amper tyd vir Suid-Afrika se beste wynmakers om mekaar die stryd aan te sê in die Veritas-toekenningskampioenskap. Dié kompetisie, Suid-Afrika se oudste en grootste, vier sy negentiende bestaansjaar en word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANW) aangebied. Vanjaar is die mikpunt om 350 deelnemers te hê om die 350ste jaar van wynmaak in Suid-Afrika te herdenk.
Wynmakers moet hul beste wyne teen 12 Augustus inskryf, maar laat inskrywings sal teen ekstra koste en met spesiale vergunning tot 21 Augustus aanvaar word. As die mikpunt van 350 deelnemers bereik word, sal ‘n R100-terugbetaling vir elke ingeskrewe wyn gemaak word.
‘n Groep spesialiste sal die wyne van 31 Augustus tot 4 September by die Nederburg-veilingskompleks beoordeel en die wenwyne sal op 10 Oktober in Kaapstad bekend gemaak word. Wyne kan dubbelgoue, goue, silwer- en bronsmedaljes verower.
Inskrywingsvorms en katalogusse is by www.veritas.co.za of by die SANW se kantore beskikbaar. Bel me. Elsabé Ferreira by tel. 021 807 3104 vir meer inligting of stuur ‘n faks na 021 863 2079 of e-pos: patricia@veritas.co.za.
7 Julie 2009