
Toeps maak die lewe makliker, en nou help ’n nuwe slimfoon-toepassing (toep) 'n boer om die kleur van sy mielie-saailinge se blare te meet en dan op grond daarvan die korrekte hoeveelheid stikstof-topbemesting toe te dien.
Met die FieldScout GreenIndex-toep bepaal ’n boer aan die hand van hoe groen ’n blaar is wat die chlorofil-inhoud – en dus die algemene gesondheid van die mielieplant – is. Met die toep kan subtiele verskille waargeneem word wat nie met die blote oog gesien kan word nie.
Die boer kry dan ’n indeks-lesing, wat in ’n stikstof-aanbeveling omgeskakel kan word. Dit is geskik om van die sesblaar-stadium af te gebruik wanneer stikstof-opname drasties verhoog en tekorte vinnig kan ontwikkel. Die toep is deur die Amerikaanse landboutegnologie-firma Spectrum Technologies ontwikkel, maar ’n gebruiker kan kies om sy stikstof-aanbevelings in metrieke eenhede te kry.
Die lesing-data kan ook met geografiese verwysings vir verdere ontleding na ’n persoonlike rekenaar oorgedra word, waar die lêers regstreeks in Microsoft Excel oopgemaak kan word. Die toep is in die iTunes-winkel te koop.
Bron: www.specmeters.com