
Hierdie foto van mnr. Von Weber van Jeffreysbaai in die Oos-Kaap, is die wenfoto in Landbouweekblad en Garmin se fotokompetisie. Von en sy swaer, mnr. Ruaan Bezuidenhout, bedryf saam Raakvat Hounds, wat boere dikwels help om skadeveroorsakende diere soos bosvarke te beheer.
Die prys is ’n Alpha 100-handtoestel en T5-slimhalsband met GPS-tegnologie van Garmin ter waarde van R14 499. Die beoordelaars sê dit was moeilik om tussen ’n groot klomp uitstekende foto’s te kies. Die wenfoto vang die duidelike afwagting en opwinding van die honde én jagter vas net voor hulle die mielieland invaar agter die bosvarke aan.
Gaan kyk na al die ander uitstekende inskrywings op Landbou.com onder “Jou Foto”. Tik die soekwoord, #GarminDog, in die soekreël om al die inskrywings te sien.