
Saans om die vuur word die dag se jag gewoonlik in diepte bespreek. Een van die mees amusante dinge om dan aan te hoor is al die verskonings waarom die skoot nie getref het waar daar gemik is nie.
Dit wissel van die eerlike manne wat sommer prontuit bely dat hy te min op die skietbaan kom en eintlik nie in die veld hoort nie, tot die wat alles sal uitdink om tog net nie te moet erken die fout lê by homself nie.
Die meer algemene is: Ek sukkel nou al lank met die teleskoop, die so-en-so-se-ding stel mos sommer vanself uit. Ek moes seker onbewus die skoot bietjie vertrek het. Die treurige oogarts het vir my die nuwe bril gegee en ek kan skaars vyf treë met die ding sien. Net toe ek die skoot aftrek, lig die vervlakste bok mos sy kop op of toe gee die miershoop mos onder my pad.
Daar was selfs die ou wat gesê het sy vrou was die vorige aand so ongeskik met hom dat hy nou nog so sleg voel dat hy nie goed kon skiet nie. So, is daar verskoning op verskoning.
Wat kan fout wees?
Eintlik is daar net ’n paar dinge wat gewoonlik verkeerd loop. Ek lys hulle as volg:
? Daar is werklik fout met die teleskoop, geweer, tipe ammunisie of daar is ’n ander meganiese probleem, byvoorbeeld los aksieskroewe. Begin lank voor die jagseisoen om na al dié dinge om te sien. Dit is ook absoluut noodsaaklik om nadat jy op die plaas aankom ’n skoot of wat na ’n teiken te skiet om seker die maak die geweer skiet inderdaad waar hy moet. ’n Misskoot, of nog erger, ’n gekweste bok weens ’n probleem met die teleskoop of geweer self is eintlik onverskoonbaar.
? Die afstand word verkeerd geskat. Met die moderne afstandmeters is dit maklik om die probleem uit te skakel, maar nie almal besit so iets nie. Daarom moet jy oefen om afstand te skat. Doen moeite om voor die jagseisoen sommer ’n bietjie in die veld rond te loop. Kies ’n voorwerp en skat die afstand. Tree dit dan af. Jy sal verbaas wees om te sien hoe meer akkuraat jy na ’n tyd kan skat. Moet maar nie te veel vertrou op plaaswerkers wat vir jou sê hoe ver die bok staan nie. Sommige van hulle is wel uitstekend daarmee, maar die wat nie gereeld by jag betrokke is nie skat ook maar sleg.
? ’n Gesprek met ’n kollega het my ook weer laat besef dat die manier hoe jy jou geweer instel ’n groot rol speel. Baie skuts stel die geweer in om op 100 treë in die kol te wees en vat dan hoër of laer na gelang van die afstand. Die probleem is dikwels om eerstens akkuraat te skat en om dan te besluit hoeveel jy hoër of laer moet mik. ’n Veel beter metode is om die geweer so in te stel dat jy van naby tot by ongeveer 250 treë nie op of af hoef te mik nie. Tabelle om aan te dui hoe jy dit doen, is oral op die internet verkrygbaar want dit word bepaal met watter kaliber jy skiet en wat die koeël se gewig en snelheid is. Die meeste gewone kalibers moet jy so tussen 4 cm en 5cm hoog stel op 100 treë. Dan behoort jy ’n springbok se doodmaakarea van sowat 20 cm vanaf 50 tot 250 treë te tref.
? Onstabiele rus. Baie min mense skiet goed uit die vuis uit. Dit noodsaaklik om so ’n stabiele rus as moontlik te hê. By voorsitjag is dit maklik om jou lekker in te rig met ’n stewige rus, maar vir wanneer jy loop en jag is ’n draagbare rus soos kruisstokke baie noodsaaklik.
? Windsterkte. Moet dit nooit onderskat nie. Selfs ’n matige windjie kan jou koeël op langer afstande vêr uit koers waai.
Oefen om goed te skiet
Nadat al hierdie moontlike oorsake uitgeskakel is bly net die heel belangrikste rede vir misskote oor, naamlik die skut self. Soos met alles in die lewe kan jy net goed skiet as jy gereeld oefen.
Pas selfbeheer toe in die veld. Skote op te lang afstand, skote op wild wat byvoorbeeld tussen bosse staan waar die koeël gedeflekteer kan word, skote met die verkeerde kaliber vir die betrokke wildsoort en om te skiet met ’n geweer waarvoor jy bang is omdat hy kwaai skop, is alles die skut se fout en myns insiens die hoofrede waarom misskote plaasvind.
• Ben Fourie is ’n jag- en geweer-entoesiasis. fourie@biblesociety.co.za