
Die Departement van Handel en Nywerheid het ‘n ondersoek na Suid-Afrika se sojaboon-perskapasiteit en beleggingsmoontlikhede in dié bedryf begin. Dít kom nadat Graan SA samesprekings met die departement hieroor gevoer het, en volg op ‘n hewige debat oor die omvang van binnelandse perskapasiteit.
Mnr. Bongani Lukhele, woordvoerder van die departement, het by navraag bevestig dat ‘n voorlopige ondersoek begin is. “Suid-Afrika is ‘n netto invoerder van beide sojabone en soja-oliekoek. Hoewel die produksie van sojabone die afgelope vier jaar met meer as 60% toegeneem het, was daar ‘n baie klein, indien nie geen, toename in die volume sojabone wat plaaslik verwerk word.
“Luidens die jongste handelstatistieke was daar ‘n sterk verhoging in sojaboonuitvoer, en Suid-Afrika kan vir die eerste keer ‘n netto uitvoerder van sojabone word. Soja-oliekoek is steeds die tweede grootste landbou-invoerproduk na Suid-Afrika. Gegewe die land se agronomiese vermoë om sojaboonproduksie te verdriedubbel, kan daar geleenthede wees om beleggings in sojaboon-verwerking te vergroot.
“Verhoogde sojaboonverwerking sal Suid-Afrika se afhanklikheid van ingevoerde soja-oliekoek verminder,” het Lukhele gesê.
23 Oktober 2009